MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-tuinbouklub het hul laaste vergadering by die pragtige Ornamental Gardens-kwekery buite Groot-Brakrivier, gehou. Hierdie oulike kwekery maak hulle eie kompos en potgrond en begin nou om ook hulle eie plante te kweek wat die plante dus meer bekostigbaar gaan maak.
Neil Cawood en sy span het die tuinbou-klublede baie vriendelik verwelkom. Niel het 'n praatjie gegee oor waterslimtuine en die lede aangemoedig om eers die grond te analiseer voordat hulle begin tuinmaak. Sekere plante soos fynbos sal in enige grond groei, maar stadiger en swakker plante sal floreer as hulle in die regte grond geplant word.
"As jy baie uintjies in jou tuin het, is jou grond suur en dan moet jy kalk strooi, maar die kalk neem drie jaar om goed te werk. As jou grond te suur is, neem jou plant nie genoeg voeding uit die grond op nie."
Neil stel voor dat tuiniers meer kliptuine en in potte tuin moet maak. 'n Goeie grondmengsel vir potte is: gelyke dele van potgrond, kompos met boombas en sand, meng ook vermikultuur in wat vog behou en dan beenmeel vir wortelgroei. Potte moet gereeld voeding kry en ook meer gereeld water as plante in die tuin. Die klub se volgende vergadering op 8 Augustus word gehou by Utopia Clivia-kwekery in Sedgefield. Carrie Kruger, die eienaar is die wenner van verskeie toekennings. Sy gaan 'n begeleide toer gee en verduidelik hoe om clivias te plant en versorg.
Lede neem hulle eie piekniekmandjies en stoele en kom om 07:45 by die Langeberg Mall bymekaar vanwaar daar om 08:00 na Sedgefield vertrek word. Lede word herinner om hul gelde vir die September-bustoer saam te bring. "Ons is ook baie opgewonde om deel te wees van die Soul Festival op 10 Augustus. Kom besoek gerus ons stalletjie by Mosselbaai Toerisme."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'