MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai Tuinbouklub se laaste vergadering was gehou by Hanger 19 Aeroclub in Aalwyndal.
Henk van Wyk, die voorsitter het vir die klub toestemming gegee om in hul pragtige restaurant te vergader. Die sprekers vir die dag was Pieter Louw van Eden Biochar en JaquilineVolbrecth van Tjhoko Paints.
Pieter en Renée Louw woon sedert 2015 op ‘n kleinhoewe in Mosselbaai. Hulle navorsing oor biochar, 'n tipe houtskool, het begin nadat hulle massas droë bosse uit die veld gehaal het om veldbrande te voorkom. In plaas daarvan om die bosse te verbrand, word dit nou herwin in die vorm van biochar. Dit is ‘n ou konsep wat onlangs herontdek is en in die laaste 10 jaar onder die vergrootglas geplaas is deur wetenskaplikes. Pieter se persoonlike eksperimentering met biochar het gelei tot ‘n produk waarmee tuingrond dramaties verbeter kan word. Biochar is suiwer koolstof wat hoogs poreus is en waarin lewende organismes woon en voedingstowwe geberg word. Die verbetering van grond met biochar-byvoeging is dramaties, veral as die grond van nature arm of gemiddeld is.
Dit bly permanent in die grond en stimuleer die vermeerdering van goeie bakterieë en swamme. EdenBiochar se produk is gelaai met organiese voedingstowwe en lewende organismes deurdat dit gemeng is met aërobiese kompos en erdwurm-kompostee. Dit verbeter ook die waterhouvermoë en stikstof-beskikbaarheid vir die plante. Die wonderlike ding is dat mens dit slegs eenmalig hoef te gebruik om ‘n permanente verbetering van die grond te bewerkstellig. Pieter het vir elke lid 'n sakkie van die Edenbiochar gegee om te gebruik.
Jaquiline Volbrecht, geakkrediteerde werkswinke-aanbieder van Tjoko Paint het ‘n baie leersame demonstrasie gegee om ‘n planterboks te verf. Sy het vertel dat Tjoko Paint reeds ‘n seëlaar in het wat dit ‘n uitstekende produk is om te gebruik op enige oppervlak en vir enige projek. Hulle het 17 nuwe kleure waarmee verskeie verftegnieke gedoen kan word. Sy het verskeie hiervan aan die tuinbouklub demonstreer.
"Namens die komitee wens ons almal sterkte toe met die staat van inperking. Ons sal julle op hoogte hou van wanneer ons weer ‘n vergadering sal hou. Op hierdie stadium vra ons dat almal verstandig sal wees en tuis sal bly," sê 'n woordvoerder van die tuinbouklub.
Vlam van Deventer oorhandig 'n plant aan Jaqueline Yzelle Volbrecht van Tjoko Paint.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'