MOSSELBAAI NUUS - Jongmense uit die plaaslike gemeenskap het onlangs die geleentheid aangegryp om as toerisme-ambassadeurs touwys gemaak te word.
Mosselbaai-munisipaliteit het opleiers op tender aangestel om die groep onder meer te onderrig in die reis- en toerismebedryf, Suid-Afrika se voedsel-erfenis, 'n algemene kennis van plaaslike diere en voëls asook die geskiedenis van Mosselbaai en plaaslike besienswaardighede.
Die waarde van plaaslike feeste vir die ekonomie en om kulturele en besigheidsverhoudinge te vestig is toegelig.
Mosselbaai se onderskeie restaurante en die tipe kos wat besoekers sal laat smag na meer, asook die unieke avontuuraktiwiteite is bespreek en die voornemende ambassadeurs het tydens hul besoeke aan die instellings eerstehands kennis opgedoen van wat alles opgedis word.
Mosselbaai is bekend as die avontuurhoofstad van die Tuinroete, en die onderskeie adrenalien-aanbiedings is goed toegelig met spesifieke verwysing na die nismark waarin dit funksioneer.
Die waarde van uitnemende kliëntediens is ook toegelig en die waarde van stergraderings vir akkommodasie is verduidelik.
In die komende vakansieseisoen sal hierdie toerisme-ambassadeurs bewys kan lewer van die nut van kliëntediens aan die talle besoekers aan Mosselbaai.
'n Aanbieding aan jong toerisme-ambassadeurs in die plaaslike toerisme-kantoor.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'