MOSSELBAAI NUUS - Te midde van die nasionale grendeltydperk om die verspreiding van die koronavirus te bekamp, berig die Mosselbaai-munisipaliteit dat hulle alles moontlik doen, in samewerking met die onderskeie vennote, om 'n ordelike samelewing te handhaaf, munisipale dienste te lewer en te verseker dat ons gemeenskappe veilig en gesond bly.
Inwoners moet, ingevolge wetgewing rondom die grendeltydperk, tuisbly tensy 'n persoon 'n noodsaaklike diens verrig of vir noodsaak winkels of mediese dienste moet besoek.
Mosselbaai-munisipaliteit het met enkele uitsonderings soos die brandweer, die munisipale kantore gesluit. Munisipale personeel werk waar moontlik steeds, maar van die huis af. Dienslewering gaan dus voort. Inwoners word egter versoek om 'n mate van geduld aan die dag te lê sou dit tans langer as normaalweg neem om aan klagtes aandag te gee.
Alle noodsaaklike-dienste-personeel is ontplooi en verrig 'n uitsonderlike taak, asook verskeie bykomende pligte om te verseker dat alles ondanks die inperking steeds glad verloop. Die brandbestryders word gereeld ontplooi om met selfvervaardigde toerusting wat die belastingbetaler baie geld spaar, die taxistaanplekke en ander areas te ontsmet, terwyl hul eweknieë in wetstoepassing 24-uur per dag werk om te verseker dat die publiek by die inperkingsregulasies hou.
"Baie dankie aan inwoners wat steeds munisipale rekeninge betaal. Dienslewering is ongelukkig van inkomste afhanklik. Vir beide individue en besighede wat besonder swaar trek weens die inperking het die raad eenparig voorstelle vir verskeie verligtingsmaatreëls goedgekeur. Inwoners kan meer hieroor lees in die gereelde nuusbriewe en/of op die munisipale sosialemediaplatforms," sê die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee.
"Die inperking het die lewenswyse van Suid-Afrikaners ingrypend verander. Ek doen 'n beroep op elke inwoner om gehoor te gee aan die regulasies. Bly tuis om veilig te bly. Moenie onnodige risiko's neem en u eie lewe of die lewens van ander in gevaar stel nie.
"Mosselbaai-munisipaliteit bly toegewy tot die hoogste gehalte dienslewering. As munisipale bestuurder besef ek daar is baie onsekerhede te midde van 'n uiters moeilike ekonomiese klimaat. Daarom is juis ook verligtingsmaatreëls ingestel vir besighede. Die Covid-10-pandemie en gepaardgaande inperking is 'n waterskeiding vir ons gemeenskap.
Mosselbaai-munisipaliteit sal voortgaan om met alle vennote saam te werk om waar moontlik verligting te bring," sê adv Giliomee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'