MOSSELBAAI NUUS - Almal wat van 'n goeie sielkundige riller hou en nog altyd gewonder het wat sal word as jou tandarts die kluts kwytraak, kan gerus hulle tande slyp vir 'n debuutroman deur Mosselbaaier, Jo Nel.
Die hond wat ophou blaf het word vandeesmaand deur Penguin Random House vrygestel en in hierdie boek word die leser se drogbeelde oor bloeddorstige tandarste waar. Die hoofkarakter, 'n tandarts Izak Hugo is gefrustreerd in sy praktyk en smag na 'n meer vervullende lewe. Sy frustrasies bou op tot die punt dat hy geheueverlies ervaar, asook migraines.
Boonop word hy snags geteister deur gewelddadige beelde. Hy verloor sy greep op homself en die werklikheid. En dan begin die poppe dans.
Jo Nel, in Swellendam gebore maar getoë op Mosselbaai, vertel dat hy 'n geruime tyd geflankeer het met die gedagte om te skryf.
Tydens 'n kuiertjie by die kantore van die Mossel Bay Advertiser, noem hy dat hy op sy dag die eertydse Home Ads in die dorp help aflewer het.
'n Gekwalifiseerde tandarts, het sy begeerte om te skryf, gestalte begin kry tydens 'n aanlynskryfkursus, waartydens sy pad gekruis het met die bekende skrywer, Wilna Adriaanse, wat sy mentor was.
Hy verduidelik dat hy in 2014, eendag by die werk tussen afsprake die eerste bladsy van sy boek geskryf het. Hierna het hy "vyf maande afgevat van tande" en in Jacobsbaai gaan bly om op sy skryfwerk te fokus. Jo het beslis vroeg al 'n wenperd beetgehad aangesien hy deur net een uitgewer afgekeur is, voor Penguin Random House sy storie opgeraap het.
"Ek het 'n bietjie skaamteloos uit my eie lewe geleen," lag hy met verwysing na hoe gemaklik hy die karakter kon vorm. Hy sê hy leer nog baie oor die skryfkuns, maar is reeds besig met sy tweede boek. Deeltyds, werk hy ook steeds as tandarts.
Oor sy boek sê hy, lesers sal 'n onpretensieuese storie daarin vind. "Dis 'n boek vir iemand wat 'n bietjie iets anders soek. My ma is okay met die storie, so ek dink dit sal wyd byval vind," skerts hy.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'