MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se NG Suid-gemeente hou weer op Vrydag, 1 September, van 17:00 'n lekker basaar op hulle kerkgronde by 15de Laan.
Dit beloof om - soos in die verlede - 'n heerlike feesgeleentheid met talle verrassings te wees.
Aktiwiteite vir die kinders begin om 17:00 en bied hope pret vir die jongspan. Die kindertafel sal allerlei lekkernye en interessante goedjies vir kinders hê. Vanaf 17:30 sal ook allerhande lekker hap-en-trap items soos sosaties, boereworsrolle, ribburgers asook lekkernye soos basaarpoeding, pannekoek, tuisgemaakte lekkers, klein koekies, groot koeke, terte, pasteie, koeksisters, beskuit en brode en vele meer te koop wees.
Daar sal ook 'n witolifante-tafel wees waar die versamelaar interessanthede teen billike pryse kan opraap. As jy op soek is na 'n interessante oudheid mag jy dit dalk ook daar vind.
Gebruikte tydlose boeke en tydskrifte, asook inmaakprodukte sal verkoop word. Nuut by vanjaar se Dankfees is die afdeling met gebruikte klere. Goeie klere sal teen weggee-pryse te koop aangebied word.
Heerlike aandetes, soos skaapkerrie, kerrie-vetkoeke en knypkoeke sal ook verkoop word. Etes moet vooraf bestel word en wel vóór 27 Augustus.
Vir bestellings besoek die kerkkantoor weeksdae tussen 07:30 en 12:30 of skakel 044 690 3552.
"Ons nooi almal in die gemeenskap om 'n lekker basaar saam met ons lidmate te kom geniet! Bring jou vriende en familie saam en kom kuier lekker saam met ons, terwyl die kinders hulle behoorlik geniet saam met hulle maats," nooi ds Danie Smit.
Daar sal baie vir die jongspan wees om te doen en geniet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’