MOSSELBAAI NUUS - Caritas Care Mossel Bay, 'n nie-winsgewende organisasie wat spesialiseer in pastorale narratiewe terapie aanbied, het hierdie jaar ‘n groot groep eerstejaarstudente ingeneem vir die kursus in pastorale narratiewe terapie.
Hierdie groep sluit studente van sover as Brenton on Sea en George in.
"As jy ‘n passie het vir mense, is jy die regte persoon om hierdie kursus te doen. Belangstellendes uit enige gemeenskap of denominasie kan inskryf vir hierdie kursus. Die oogmerk is om mense op te lei wat hulp kan aanbied vir hulle medemens en ‘n verskil kan maak in hulle gemeenskap," verduidelik Barbara Muller van Caritas.
Pastorale narratiewe terapie is ‘n respekvolle benadering wat niemand veroordeel nie. Modules wat deel uitmaak van die kursus is trauma, verhoudingsterapie, tieners en ouerskap, molestering, substansafhanklikheid, depressie en nog vele meer.
Hierdie gevorderde sertifikaatkursus word geakkrediteer deur die Universiteit van Pretoria.
Caritas Care Mosselbaai is ‘n hibriede kampus, klas word gelyktydig in persoon en aanlyn aangebied. Studente van so ver as Robertson, Schweizer-Reineke, Alberton en Bethlehem skakel tans virtueel in.
Studente, eerstejaars, tweedejaars en alumni-studente het die opsie om die klas in die oggend of saans by te woon. Studente word toegerus om hoop en genesing te bring in ‘n verskeidenheid situasies.
"Ons leuse is, For the love of you."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'