Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die South African Inshore Search and Rescue Service (SAISRS), deesdae bekend as die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het sedert die sestigerjare hoë risiko areas geïdentifiseer wat betrekking het op seereddingswerk.
Die Mosselbaai-area was een van die brandpunte nadat 17 bemanningslede van drie vistreilers in 1966 naby Stilbaai verdrink het.
In 1969 het die Mosselbaai-munisipaliteit saam met verskeie rolspelers fondse bymekaargemaak en so is Mosselbaai se NSRI Stasie 15 op 21 Mei 1971 geopen. Die NSRI is 'n liefdadigheidsorganisasie en word deur vrywilligers uit die gemeenskap beman. Die geboue behoort aan die organisasie en sedert die gebou in die hawe-gebied van Mosselbaai in gebruik geneem is, is verskeie veranderings aangebring,
Die gebou is reg langs die water en gereelde instandhouding word gedoen. Volgens André Fraser, stasiebevelvoerder is besluit dat die geboue 'n nuwe baadjie benodig. Plaaslike kontrakteur, Kosie Gericke en sy span die afgelope tyd die geboue uitgeverf.
Kyk 'n video hieronder
Dit is as voorloper vir die 50ste bestaansjaar van die stasie in Mosselbaai wat op 21 Mei 2021 gevier gaan word.
Die stasie is toegerus met 'n 'n klas 1, Rescue 15, 'n 10m reddingsvaartuig, St Blaize rescuer 'n 5.5m reddingsboot en Rescuer 15 Bravo, 'n 4.2m reddingsboot. Die stasie het tans 45 vrywilligers van verskeie beroepe in die samelewing. Die stasie se bekwame reddingswerkers is 24h per dag beskikbaar.
Hulle hoofdoelwit is om verdrinkings te voorkom deur opvoeding, voorkomende maatreëls en deur reddingspogings ter see. Volgens Gericke was die nuwe baadjie 'n uitdaging aangesien die vogtige klimaat en sout baie uitdagings wat betref die verfwerk gebied het.
Die vlagskip van NSRI-stasie 15, Klas 1 Redding 15, die 10m lange reddingsvaartuig staan hier in die nuut geverfde gebou. Foto: Jannie du Plessis
André Fraser (heel regs), NSRI Stasie 15 Mosselbaai se bevelvoerder en links van hom staan Johan Crew (NSRI) saam met Kosie Gericke en sy span werkers hier voor die motorhuisdeur wat deur plaaslike kunstenaar, Liani Swanepoel, geverf is. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'