MOSSELBAAI NUUS - Twee byeenkomste word vir Maandag op Mosselbaai beplan waar inwoners aan die landwye veldtog teen geweldsmisdade veral teen landbouers op plase, maar ook teen gewone Suid-Afrikaners in die algemeen kan deelneem.
Die eerste byeenkoms sal om 06:00 onder die St Blaize-grot by die Punt afskop.
Na wat verneem word, sal ds Gielie Joubert aanwesiges in geestelike begeleiding voortgaan, waarna die uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé die groep in 'n massa-staptog om die Punt sal lei.
Hierdie geleentheid bied juis kans vir diegene wat nie van die werk kan wegbly nie om ook hul merk teen die vlaag misdaad in die land te maak.
'n Volgende byeenkoms, wat vanaf 11:00 in Hartenbos sal plaasvind, sal afsluit met 'n optog waarna die groep 'n petisie aan die plaaslike owerheidsverteenwoordigers en die polisie sal oorhandig.
Inwoners word versoek om by die oop stuk grond suid van die Engen garage op Hartenbos byeen te kom, tussen Hartenbos laerskool en die Louis Fourie-deurpad.
"Indien moontlik kom met Trekkers, Bakkies en Lorries/Trokke. Dra swart as jy wil.
Vandaar sal ons dan n optog deur Mosselbaai hou en verdaag" nooi die organiseerders.
Mans en vroue van alle rasse het in ootmoediging geluister na die geesteligke begeleiding van ds Gielie Joubert. "Die geweldsmisdade in die land, alle geweldsmisdade, moet stop," het ds Gielie gepleit.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'