MOSSELBAAI NUUS - Reuse branders het tydens Woensdagmiddag, 15 November, se springgety veroorsaak dat die toegangstrappe na die strandgebied en bosse teen die sandwalle by Diasstrand, losgespoel het en dit behoorlik soos 'n rommelhoop daarna uitsien het.
Na die vorige vlaag skade wat by strande aangerig is, is hierdie weer eens ‘n groot kopseer met die feestyd net om die draai.
Volgens ‘n ingeligte bron het die gemeenskap hulle self glo kom help met van die hout en selfs stukke staal van die skeepswrakke, die Rosebud of die King Cenric, wat na die storm, of oop- of losgespoel het.
Die Mosselbaai Munisipaliteit en sy gekontrakteerde spanne het op Donderdag, 16 November, 'n omvattende strandskoonmaakbegin by Twee Kuilen, Diasstrand, Bakke en Santosstrand om rommel te verwyder.
Die rommel, wat na onlangse vloede vanuit hoër geleë areas na die kusgebiede gespoel is, het op die strand opgehoop nadat sterk wind en golfaksie dit vanuit die see terug gedwing het.
Spanne het die rommel, insluitend boomstompe, takke en stokke, na hopies verskuif waarvan sommige verwyder sal word, terwyl die res nader aan die duine sal bly om erosie te bestry.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het in ‘n ander verklaring oor die vordering van herstelwerk na die vorige skade die volgende aan die Mossel Bay Advertiser verskaf.
"Die munisipaliteit het ingenieursverslae bekom waarvan die laaste eers einde Oktober ontvang is. ‘n Versekeringseis is ingestel en soos met enige eis van bepaalde bedrae, is assessors ter sprake.
Hierdie assessorbesoek het eers Dinsdag, 14 November, plaasgevind. Die munisipaliteit is ewe gretig om antwoorde te kry sodat dit aan die publiek bekend gemaak kan word.
Die munisipaliteit gaan egter na die nodige toestemming eers aandag skenk aan die herstelwerk by die Blouvlagstrande voor die ander skade aandag sal kry. Tans is dit egter nog nie moontlik om ‘n werkskedule te verskaf nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’