MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Community Soup Drive het op Saterdag, 4 Maart hulle jaarlikse ontbyt fondsinsamelingsfunksie in die D'Almeida-gemeenskapsaal aangebied.
Die funksie is bygewoon deur mense vanuit die hele gemeenskap en verskeie raadslede van Mosselbaai se stadsraad.
Pastoor Debbie Benjamin het in die bediening van haar geestelike boodskap mense aangemoedig om hul deel by te dra waar hulle nood in hul gemeenskappe identifiseer.
Burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé wat die gasspreker was, het die munisipaliteit se posisie rakende beurtkrag in detail aan gaste by die funksie verduidelik. Hy het ook sy dankbaarheid teenoor die Mossel Bay Community Soup Drive uitgespreek en beklemtoon dat hy bewus is van die werk wat die organisasie doen in die gemeenskap.
Hy het ook die gemeenskap aangemoedig om betrokke te raak by projekte soos dit wat deur die Mossel Bay Community Soup Drive gedoen word.
Die funksie is gehou ten bate van die organisasie se Jeugdag wat op 16 Junie op D'Almeida-sportgronde sal plaasvind.
Die gasspreker by die geleentheid sal die bekroonde aktrise Crystal Donna Roberts wees, wat die hoofrol in die film Krotoa vertolk het. Sy speel tans in Arendsvlei en het ook haar verskyning al in 7de Laan gemaak.
Milton Fillies, beskermheer van Mossel Bay Community Soup Drive. Foto: Dexter Brinkhuis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'