MOSSELBAAI NUUS - CariBuntu Groter Mosselbaai, 'n sosiale innovasieprojek wat verlede jaar sy beslag in Mosselbaai gevind het, het as 'n hub geregistreer onder die vaandel van Helplift wat nasionaal werksaam is.
Daar is reeds verskeie sulke gemeenskapshubs wat in die land bestaan. Die plaaslike tak is HUB 018.
Helplift wil die paradigmaskuif maak van "die welsyn wat mense help" na "mense wat mekaar help".
Helplift is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, daarom kan donateurs wat aan hulle skenkings doen aanspraak maak op B-BBEE-punte en Artikel 18A voordele.
Die organisasie funksioneer op vyf platforms. Dit is 'n gemeenskapsnetwerk waar donateurs na vore kom en besluit wat hulle bereid is om te gee en onder watter voorwaardes en waar organisasies behoeftige ontvangers identifiseer. Die hub fasiliteer dan die verskaffing van die dienste en donasies tussen die donateurs en die ontvangers.
Dit sluit byvoorbeeld die dienste van 'n tandarts in wat bereid is om 'n pasiënt of pasiënte een of meer keer gratis per maand te behandel of 'n jong seun wat bereid is om 'n senior burger se gras gratis te sny, ensovoorts. Mense, organisasies en besighede word verbind met mekaar binne hierdie netwerk.
Dit behels ook 'n gemeenskapstoor waar gewers oortollige toerusting, meubels ensomeer besorg en die hub dan die oorhandiging daarvan aan behoeftige ontvangers hanteer. 'n Verdere faset is 'n vaardigheidsentrum waar werkloses opleiding kan ontvang en werksgeleenthede geïdentifiseer word.
'n Entrepreneursinkubator word ook benut waarbinne entrepreneurskap en ondernemingsontwikkeling bevorder word. 'n Impakfonds word bedryf, waar fondse wat ontvang word en gebruik word om projekte te implementeer. Die identiteit van die gewers word beskerm om uitbuiting te voorkom.
Des Sampson, tree tans op as die hub-bestuurder. "Indien ons befondsing bekom gaan ons 'n voltydse hub-bestuurder aanstel. Ons is tans in verbinding met die munisipaliteit om moontlik 'n kantoor te bekom. Ons beplan om as deel van die Mosselbaai Sportfees op 27 en 28 September 'n strandsportdag te hou by Dias wat pa-en-seun-rugby, sokker en vlugbal sal insluit en onsself sodoende bemark. Skole spanne sal ook betrek word."
Vir meer inligting, kontak Des Sampson (082 651 2006).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'