MOSSELBAAI NUUS - 'n Drama het hom onlangs in Marshstraat by die kuierplek Zeppelins op Mosselbaai afgespeel.
Volgens die Mosselbaai-polisiestasie se kommunikasiebeampte, ao Pieter Koekemoer is die twee skote wat omliggende inwoners en kliënte op Donderdagaand, 31 Maart gehoor het, nie met 'n regte vuurwapen afgevuur nie.
Die wapen word nie as 'n vuurwapen geag nie omdat dit slegs loskruitpatrone afvuur.
"Daar is dus geen misdaad nie."
Volgens die bestuurder van Zeppelins, Amoré Visser het hulle egter intussen 'n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak omdat een van die mans wat by die onderonsie betrokke was, 'n vroulike personeellid van Zeppelins geklap het.
Visser sê twee vingers van haar uitsmyter ook in die proses gebreek is.
Volgens Visser was daar 'n kommunikasieprobleem tussen die manlike kliënt en die kroegman.
"Dit het gegaan oor die deposito wat ons vir die gebruik van die snoekertafel se witbal en stokke vra."
Koekemoer sê die kliënt het in 'n woordewisseling met die kroegman betrokke geraak waarna 'n vroulike werknemer van Zeppelins, wat van diens af was, ingetree het.
"Sy het vir die man probeer verduidelik hoe dit werk, waarna hy haar geklap het. Die geveg het na buite beweeg en een van die kliënte het twee skote afgevuur."
Visser sê: "Die hele voorval was onnodig. Baie van ons kliënte het na dit sommer huistoe gegaan."
Die Mosselbaai-polisiestasie ondersoek 'n saak van aanranding.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'