MOSSELBAAI NUUS - As vier vroue in 'n haarsalon skielik in verskillende rigtings begin hardloop, dan is daar sekerlik fout.
Dit gaan ook beslis nie oor hare nie, maar oor 'n slang.
Dit het die eienaar van D Salon en kliënte Dinsdag by die salon in Montagustraat in Mosselbaai oorgekom.
Volgens Lynette Honiball het haar skoonmaker by die trappe afgekom met die woorde "snake, snake, snake". "Dis toe almal net daar opspring en hardloop," vertel Honiball. Toe sy egter die klein slangetjie met patroontjies op die rug sien, het sy eers gedink aan 'n klein pofadder. "As jy nie die kennis het nie, los jy hom uit," sê Honiball.
Hulle het die munisipaliteit geskakel en Honiball het 'n pluimpie vir die munisipaliteit, aangesien hulle baie vinnig opgedaag het. Wat hulle verwag het was 'n groot slang en groot was hul verbasing oor die klein skaapstekertjie wat hul toe gevang en weer in die veld gaan loslaat het.
Die gevlekte skaapsteker is 'n slang wat in groot dele van Suid-Afrika voorkom. Die slang se gif is matig en onbeduidend; dit word nie as skadelik beskou nie. Die slang is bedags aktief en kom van die kus tot op bergtoppe voor; dit leef in fynbos, grasveld, vogtige savanne en halfwoestyngebiede. Sy natuurlike vyande is roofvoëls, klein karnivore en ander slange. Hulle vreet knaagdiere, akkedisse, voëls, paddas en ander slange.
Twee brandweermanne wat spesiaal opgelei is in die hantering van slange hier besig om die skaapsteker te vang.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'