MOSSELBAAI NUUS - 'n Jong seun van Mosselbaai, Qhanani James het onlangs 'n spesiale 9-karaat ring by die Poort uitgeduik.
Die ring wat soos 'n trouring lyk is vir 'n man ontwerp.
Volgens Paula Marais, het haar seun, Paul en Qhanani Sondagmiddag, 14 Januarie om 15:00 by die Poort geswem.
"Ons het almal met duikbrille geswem en na die visse by die Blougat gekyk toe Paul vir my sê, Qhanani het 'n trouring uitgeduik.
Qhanani het die ring vir Paula gegee en haar gevra om die eienaar van die ring op te spoor.
"Sodat ons iemand se hart bly kan maak want so 'n spesiale ring moet sekerlik sentimenteel wees."
Paula sê sy kan sien dat die ring al jare aan iemand se vinger was.
"Maar wat is die kans dat die persoon die ring in die onstuimige hoogwater by die Poort sal gaan soek.
"Daar is seker nie 'n kans nie, maar te danke aan Qhanani kan ons nou moontlik die eienaar opspoor."
Die seuns het by die Poort geswem toe Qhanani die ring op die bodem sien lê het.
Die persoon wat die ring korrek beskryf, en die regmatige eienaar van die ring is, kan vir Paula kontak (044 601 9900).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'