MOSSELBAAI NUUS - 'n Ses-jarige meisie is besig om opslae in posduifkringe op Mosselbaai te veroorsaak ná sy die afgelope twee jaar, 2022 en 2023, as die klub se junior kampioen gekroon is.
Tashinga Grace Kadye, graad een-leerder by Imekhaya Primêre Skool op Mosselbaai, se liefde vir posduiwe het by haar pa, Toana, van Zimbabwe begin.
Tashinga het haar pa gereeld na Danie Barnard se hokke op Danabaai vergesel waar sy geleer het om met die duiwe te werk. In 2021 het Barnard en Corrie Naude vir Tashinga so 30 stuks duiwe as geskenk gegee. Sy het elke dag as haar pa in die hokke gewerk het uitgehelp met die takies en geleer hoe om die duiwe te hanteer en vas te hou. Haar liefde vir die gevleulde diere het daar begin.
Met sy uitstekende kennis van duiwe, het haar pa uit die geskenkte duiwe, pare uitgesonder en haar gehelp om goeie gevlerktes te teel. Sy het in die 2022-seisoen sterk duiwe begin vlieg en sommer dieselfde jaar junior klubkampioen geword.
Haar pa het weer in 2022 duiwe vir haar geteel, wat haar in 2023 byna al die kategorieë laat wen het. Die unie borg juniors om vyf duiwe per wedvlug, gratis te kan vlieg. Nou dat sy in graad een is, kry sy net na skool en naweke tyd by haar duiwe.
In die senior-kompetisie met 28 lede, het sy agtste in die klub geëindig en met haar duiwe gesoute posduif-eienaars uitgestof. In die junior afdeling is sy die beste junior-, jaaroud-, ope-, middelafstand-, langafstanden tweede kortafstand-kampioen.
Sy het in 2023 16 eerste-, 13 tweede-, 20 derde-, vierde- en vyfde-plekke met 11 elk behaal. Tans is die duiwe besig om te verveer en wie weet wat sy in dié jaar se vliegseisoen sal vermag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’