Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die senior burgers van Sonskynvallei naby Hartenbos is Sondag, 27 November getrakteer met 'n vingerete, 'n sangopvoering en toneelspel wat deur Hervin se Sopkombuis en die burgemeesterskantoor gereël is.
Hervin Botha beplan om volgende jaar 'n senior klub vir die bejaardes in Sonskynvallei te begin waar hulle fiksheidsaktiwiteite en allerhande handewerk gaan doen om die hande besig en die breine aan die gang te hou.
FOTOGALERY: Senior burgers van Sonskynvallei word bederf
"Die mense is baie opgewonde en wil graag deelneem aan die klub se bedrywighede,"
Die burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzé vertel dat mense en gemeenskappe baie swaar kry en dat mense moedeloos en negatief raak. "Dit is dan 'n riem onder die hart om te sien hoe mense hande vat, die probleem raaksien en dit aanspreek. Dit is waaroor die Make a Difference (MAD) veldtog gaan.
"Een keer 'n jaar kan nie-winsgewende organisasies aansoek doen vir MAD-befondsing. As hulle aan die kriteria voldoen, word die fondse dan regverdig verdeel aan kwalifiserende organisasies."
Volgens Stefan Botha, raadslid van Wyk 7 is dit bemoedigend om mense uit die gemeenskap te ontmoet wat voel hulle wil 'n bydrae lewer en bereid is om saam die pad te loop. "Dit is altyd lekker om saam met Hervin te werk. Hy het 'n passie en liefde vir die gemeenskap."
Die senior klublede van Clarkson, 'n dorpie in die Oos-Kaap waar Hervin grootgeword het, het spesiaal vir die dag na Mosselbaai gereis om die geleentheid by te woon en het die gaste vermaak met sang en toneel. Die stigter van die Clarkson-klub vertel dat hulle baie sukses het met die klubs wat hulle begin het. "Oumense kan nou uit hul huise kom, met mekaar kommunikeer en het nie so baie tyd om te sit en tob nie. Hulle word ondersteun. Dit maak 'n groot verskil in ons gemeenskappe. Hulle leef nou."
VIDEO - Mosselbaai burgemeester, Dirk Kotze is beindruk deur individue se uitreikingaksies in gemeenskappe.
VIDEO - Stefan Botha, raadslid wyk 7 by Mosselbaai Munisipaliteit.
VIDEO - Hervin Botha van Sonskynvallei beplan 'n seniorburger klub om die ouer geslag besig te hou.
VIDEO - Jennifer Stuurman, voorsitter van die Senior Burger klub in Clarkson.
Sonskynvallei se ouer mense kyk na 'n vertoning deur die Clarkson Senior Klub.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'