MOSSELBAAI NUUS - Met die oog op die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, het Caritas Care, 'n sentum vir pastorale narratiewe terapie 'n reeks artikels beskikbaar gestel oor seksuele misbruik.
Hierdie, die eerste van vier, verwys daarna dat deur die swygsaamheid oor seksuele misbruik te breek, 'n positiewe uiteinde bewerkstellig kan word.
Daar bestaan 'n geneigheid binne die samelewing om die manier waarop 'n gesin, familie of die gemeenskap dink en optree teenoor seksuele misbruik, te aanvaar.
Volgens kenners veroorsaak hierdie aanvaarding, beperkings op ons vermoë om anders te kan dink. Die gevolg is dat vroue en kinders wat die slagoffers van seksuele misbuik is, die geleentheid misgun word om hul eie storie van so 'n gebeurlikheid te ontgin. Hulle word stil en die gebeurlikheid kry nie 'n stem nie.
Hierdie beperkings verhinder mense om 'n nuwe koers in te slaan, nuwe konneksies te maak, asook om nuwe oortuigings en ontdekkings te glo. Sogenaamde beperkings neem verskillende vorms aan en word 'n netwerk of sisteem wat kan insluit, die aanvaarding van wat mense soms verkeerdelik van jou dink, 'n verkeerde diagnose of valse verwagtings. Dit is grotendeels 'n onbewustelike netwerk of sisteem.
Wanneer die aard van hierdie beperkinge bepaal word en 'n naam kry, is daar 'n reaksie oftewel 'n beweging in die regte rigting.
Terapeutiese waarde
Indien die slagoffer sy of haar eie vaardighede en oorlewingstrategie onder leiding van 'n terapeut ontdek, word 'n nuwe storie met 'n hoorbare stem geskep. Sodoende word 'n nuwe denkpatroon begin wat 'n nuwe dominante, hoorbare storie kan bring.
"Ons werkswyse in narratiewe terapie vir vroue en kinders as slagoffers van seksuele molestering, is om alternatiewe stories met behulp van hulle eie vaardighede en oorlewingstrategie, te help ontdek," verduidelik 'n Caritas Care-woordvoerder.
"Saam met die terapeut, word ook families gelei en voorberei om die kontras tussen verskillende vergelykings of beskrywings van die kliënt, en ook van hulle beperkte visie, te sien. Verandering van hierdie beperkte visie, aktiveer dan nuwe reaksie sodat nuwe oplossings ontdek kan word om die bou van 'n nuwe storie vir die kliënt te help ontgin."
Die narratiewe terapeut speel 'n belangrike rol in die begeleiding na die gereedmaak van die familie en kliënt, om te besef dat daar 'n alternatiewe storie is wat as gevolg van die beperkings, nooit gehoor is nie. Terapeute help dan die kliënt om 'n seleksie te maak, wat veroorsaak dat die ou storie vervaag en nuwe betekenis gevorm word.
"Gee jou stilte 'n stem, kontak 071 473 0507 per WhattsApp, om met Caritas Care kontak te maak."
* Caritas Care bied 'n gratis diens aan die gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'