MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit het met die daaglikse dienstemoniteringsvergaderings vir die somervakansieseisoen begin.
Elke oggend om 08:00 vergader die onderskeie rolspelers onder meer verteenwoordigers van die woonwaparke soos ATKV, De Bakke/Santos en die Punt; die Mosselbaai-gemeenskapspolisiëringsforum; die verskillende buurtwagte; die bevelskader van die polisie en bevelvoerders van die verskillende polisiestasies, die lewensredders en kontrakteur verantwoordelik vir die puntdienste en strandwagte en ander belanghebbendes om diensleweringsprobleme te bespreek en seker te maak dit word onmiddellik opgelos, waar moontlik.
Hierdie vergadering maak seker dat probleme onmiddellik geïdentifiseer, aangespreek en afgehandel word sodat inwoners en vakansiegangers met gemoedsrus vakansie kan hou.
Straat- en strandskoonmaakdienste word gemonitor, misdaadverslae en voorkomende optrede word bespreek en die verteenwoordigers gee terugvoer oor enige probleme of uitdagings wat ondervind word sodat dit opgelos kan word.
Die vergaderings word gelei deur die gesoute mnr Joubert Coetzee, wat ook deur die loop van die jaar die normale weeklikse dienstemoniteringsvergaderings lei. Voorts is verskeie raadslede, die munisipale bestuurder, alle direkteure en relevante personeel betrokke en word hulle verantwoordbaar gehou vir terugvoer op die gelyste diensleweringsprobleme.
Die Seisoenmoniteringskomitee sal vir die duur van die vakansie elke weeksoggend vergader.
Diensleweringsprobleme kan aangemeld word by 044 606 5000 of deur verkieslik 'n e-pos met stawende inligting, indien moontlik te stuur aan admin@mosselbay.gov.za
Die Seisoenmoniteringskomitee sal vir die duur van die vakansie elke weeksdagoggend vergader.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'