MOSSELBAAI NUUS - 'n Klein karetseeskilpad (loggerhead), het Maandag op 'n strand in Mosselbaai uitgespoel.
Volgens 'n woordvoerder van S.M.A.R.T. (Stranded Marine Animal Rescue Team) is dit die eerste aangemelde geval vanjaar.
Hoekom spoel hierdie seeskilpaaie op strande uit?
Dit het alles te doen met seestrome. Die skilpaaie broei uit aan die KwaZulu-Natalse kus en beweeg dan in die warm Agulhasstroom suidwaarts. In die omgewing van die Suid-Kaap beweeg die Agulhasstroom weer effens opwaarts en die skilpaadjies beland dan in kouer water waaraan hulle glad nie gewoond is nie. Wanneer hulle op ons plaaslike strande uitspoel is hulle meestal hipotermies en baie swak en is hulle ook bedek met alge en ander organismes.
Wat gebeur met die skilpaadjies?
Die skilpaaie word by die Dias Museum of by die Hartenbos Dierehospitaal aangehou waar hulle gestabiliseer word. Sodra hulle sterk genoeg is, word hulle na of Two Oceans-akwarium in Kaapstad of Bayworld in Port Elizabeth gestuur waar hulle gemonitor en behandel word. Hulle word dan later as ‘n groep weer in die Agulhasstroom vrygelaat.
Alle seeskilpaaie is bedreigde spesies en mag onder geen omstandighede in privaat besit aangehou word nie. Spesiale permitte is nodig om hulle te hanteer en in Mosselbaai is dit slegs die Dias Museum en dr Frans de Graaff (Hartenbos-dierehospitaal) wat met hulle mag werk. Vrywilligers van S.M.A.R.T. beskik oor die nodige opleiding en kennis om die skilpaaie te hanteer en na een van bogenoemde fasiliteite te neem. Die Two Oceans-span het 'n aantal roomysbakke by die Dias Museum gelaat om skilpaadjies in te plaas. Indien jy gereeld op die strande beweeg, wees voorbereid daarop om 'n skilpaadjie raak te loop.
Wat om te doen wanneer 'n skilpad op die strand gevind word?
Kontak S.M.A.R.T. by 072 227 4715 of die Dias Museum (044 691 1067) onmiddelik. Moenie die skilpad terugplaas in die see of in ‘n houer met water nie. Plaas die skilpad op ‘n klam lap of handdoek in ‘n plastiese houer soos 'n roomysbak. Maak luggate in die deksel en hou by kamertemperatuur totdat die skilpad gehaal word. Moenie die skilpad probeer voer nie en hanteer so min as moontlik.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'