MOSSELBAAI NUUS - Op Mandeladag, het die Mosselbaai-munisipaliteit en strategiese vennote insluitend die Anker Hope of News Life Relief-organisasie (ALRO), die Piet Julies MIV/VIGS-aksiegroep, asook die departemente korrektiewe dienste, gesondheid en landbou,‘n groentetuinprojek geïmplementeer.
Tien huishoudings wat van kospakkies afhanklik is, sal baat vind by hierdie tuine.
Die huishoudings gaan aan ‘n kompetisie deelneem om hulle aan te moedig om die groenteverbouiing voort te sit. Kinders sal ook, as deel van die opvoedkundige doelwitte van die projek, leer om geld te spaar aan die hand van hoe hulle saailinge groei. Munisipale raadslid, Erika Meyer, ondersteun ook die projek deur aan die jongelinge wat deelneem, hulle eerste geldjie te gee waarmee die spaarplan begin word.
Die eerste projek is in Ankerstraat, D’Almeida begin.
Alma Kapp van die Mosselbaai-munisipaliteit noem dat sodra departemente en organisasies hande vat, daar volhoubare programme geïmplimenteer kan word, wat nie net die simptoom nie, maar die oorsprong van ‘n probleem aanspreek.
Rita Kayster van die Piet Julies MIV/VIGS-aksiegroep, verduidelik dat die heersende ekonomiese toestande die behoefte na kospakkies vergroot en dat organisasies maniere moet vind om meer gesinne te help.
Raadslid Erika Meyer gesels met die jongspan in Ankerstraat.
Entrepreneurs
Gabriël Speelman van die department van landbou is opgewonde dat die saailingprojek die kinders kan leer om entrepreneurs te wees.
Pastoor Nolene Cupido van ALRO wat in Ankerstraat bedien, is ingestel op die emosionele versorging van die gemeenskap. As afgetrede verpleër, gaan sy in samewerking met suster Pedro Meyer, van die departement gesondheid, fokus om uitdagings met wanvoeding aan te spreek.
Die sogenaamde raised gardens-projek wat in onder meer op Herberstdale begin is, het reeds getoon dat een so ‘n groentetuin ‘n hele gesin se voedingsbehoeftes kan aanspreek. Speelman het Maandag koolsaailinge aan die groenteboere op Herbertsdale geskenk.
Die department korrektiewe dienste se betrokkenheid by die vestiging van groentetuine, is ook voordelig omdat dit bydra tot die sosiale integrasie van diegene onder korrektiewe toesig en wat tydens die projek hand bysit.
Enige persoon wat betrokke wil raak kan tuingereedskap, potgrond, sade of saailinge, gebruikte toiletrolletjies, eierhouertjies of blikkies skenk.
Vir meer inligting, kontak Alma Kapp (akapp@mosselbay.gov.za of 079 691 7708).
Raadslid Erika Meyer het die jongspan se spaarplanne 'n hupstoot gegee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'