MIDBRAK NUUS - Tersia Marais, direkteur van Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) is op Dinsdag, 14 Mei, die gasspreker tydens Midbrak-tuinbouklub se maandelikse byeenkoms.
S.M.A.R.T., bestaande uit vrywilligers, is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat in 2015 met die stranding van 'n walvis by Suiderkruis onstaan het.
Tersia wat deurentyd tydens hierdie situasie teenwoordig was, het besluit dat daar 'n meer georganiseerde manier moet wees om gestrande marienediere te help. Saam met dr Frans de Graaff en raadslid Anton Dellemijn, het hulle S.M.A.R.T. begin en sedertdien al baie robbe, seeskilpaaie en verskeie walvisstrandings hanteer.
Tersia is in Johannesburg gebore en het op 13-jarige ouderdom saam met haar ouers na Tzaneen verhuis.
Daar het sy gebly en getrou en het sy eers 23 jaar gelede "met 'n draai en'n storie", in Mosselbaai beland. Hierdie aktiewe ouma beskou die see en natuur as haar lewe en is ook 'n professionele fotograaf en vryskutjoernalis.
In die Midbrak-area is mense geseënd om die see en omliggende strande te kan geniet as 'n uitbreiding van eie "tuine".
"Kom ontmoet vir Tersia op Dinsdag, 14 Mei om 10:00 by Ornamental Gardens. Sluit by Midbrak Tuinbouklub aan vir 'n koppie tee en gesels met Tersia oor die seelewe en wat elkeen kan doen om 'n bydrae te lewer."
Gaste is welkom teen R15 per persoon, tee ingesluit.
Om meer uit te vind van die Midbrak-tuinbouklub se aktiwiteite, hou gerus die koerant dop of skakel Leedee (082 928 5624).
'Ons bring jou die nuutste Midbrak, Tuinroete nuus'