MOSSELBAAI NUUS - Drie mans het Saterdagaand, op 10 September in ‘n klein oorlog in Maqabangqastraat, KwaNonqaba ‘n spazawinkel van R10 000 beroof en twee mense gewond toe hulle wild en wakker ‘n vuurwapen in die straat afgevuur het.
Volgens die polisie se kommunikasiebeampte, ao Pieter Koekemoer het die verdagtes, wie se gesigte met klapmusse vermom was, die spazawinkel om ongeveer 18:30 beroof.
Die verdagtes het die winkeleienaar in die been geskiet waarna hulle kontant gesteel het en toe skote buite die winkel afgevuur het.
‘n Vroulike inwoner, wat twee huise daarvandaan by haar tuinhekkie gestaan het, is in die proses in die arm gewond. Die verdagtes het te voet gevlug.
Volgens Koekemoer is beide slagoffers na ‘n plaaslike hospitaal afgevoer. “Die vrou is intussen ontslaan en die winkeleienaar word steeds in die George-provinsiale-hospitaal behandel.”
Koekemoer sê die feit dat die verdagtes hul gesigte vermom het bemoeilik die polisie se taak. “Ons vra enige ooggetuies wat enigiets gesien het om met die polisie te praat.” Die KwaNonqaba-polisiestasie ondersoek twee sake van poging tot moord.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'