MOSSELBAAI NUUS - 'n Sakeman wat daarvoor bekend was dat hy nie geskroom het om iets vir sy gemeenskap te doen nie, was verlede week die slagoffer van 'n gewapende rooftog.
Hy is noodlottig gewond tydens die voorval wat op Maandag, 2 Desember omstreeks 13:00 plaasgevind het by 'n besigheidsperseel in Sixaxenistraat vanwaar 'n kuierplek bedryf word.
Mouers het self 'n kuierplek, die Real Star Tavern in Franslaan, Civic Park, bedryf waar daar op 13 Oktober 'n gewapende rooftog was.
Van sy personeellede en 'n tienerseun is tydens die rooftog beseer toe die rowers per ongeluk 'n skoot met 'n vuurwapen afgevuur het.
Mouers was volgens inligting saam met ses ander mense, waaronder 'n jong kind en 'n vrou by die perseel in Sixaxenistraat toe drie gewapende mans in blou oorpakke opgedaag en kontant geëis het. Mouers het hom teëgesit waarna die rowers hom glo in die arm geskiet het. Hierna het nog ses skote gevolg. Mouers het kort na die voorval in 'n plaaslike hospitaal aan sy wonde beswyk.
'n Jarelange kennis en raadslid wat ook in Civic Park bly, Niklaas Booisen, het Mouers se afsterwe betreur. Hy het gesê dat Mouers 'n besondere voorliefde vir sport, by name rugby gehad het en dat hy nie geskroom het om sy hand in die sak te steek om finansieel te help nie.
Mouers het gereeld met vervoer van spelers na wedstryde buite Mosselbaai uitgehelp. "Hy het selfs al op die veld uitgehelp as daar te min spelers was, ongeag sy ouderdom," het Booisen vertel.
'n Roudiens vind op Woensdagaand, 11 Desember om 19:00 by Heunisstraat 385 in Uitbreiding 8 plaas asook op Donderdag, 12 Desember om 19:00 by Bonanzastraat 8, Highway Park. Op Saterdag, 14 Desember is daar 'n huisdiens om 09:00 by Skoolstraat 18 waarna 'n kerkdiens om 10:00 vanuit die Light House Assembly of God plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'