Update
GROOT BRAKRIVIER NUUS - Vuurwapenlisensiehouers op Groot-Brakrivier wat telkemale probeer om lisensies te hernu, maar wat voor dooiemansdeur eindig omdat daar niemand is om hulle met die lisensies te help nie, sal hopelik eersdaags bygestaan word.
Die Mossel Bay Advertiser het onlangs berig, vuurwapenlisensiehouers sit met hulle hande in hul hare omdat hulle by die polisiestasie weggewys word.
Daar is glo nie genoegsame personeel om met die taak te help nie. Ander polisiestasies in die Mosselbaai-gebied wys hulle ook weg omdat 'n ander tak glo nie hiermee mag help nie.
'n Inwoner het verlede week aan die Advertiser geskryf: "Ek moes my vuurwapenlisensie hernu maar ek kan nie want daar is niemand by die Groot-Brakrivier-polisiestasie wat my kan help nie en hulle het nie personeel hiervoor nie. Die vervaldatum gaan nie verleng word nie, wat moet ek doen?"
Intussen het die Suid-Kaapse polisiekommunikasiebeampte, kapt Malcolm Pojie op Woensdag, 21 April aan die Advertiser gesê: "Ons het vandag 'n vuurwapenbeampte van Heidelberg na Groot-Brakrivier gestuur om met die aansoeke te help. Ons sal voortaan mense van naburige polisiestasies gebruik om druk te verlig. Ons hoop ons kan die probleem so oplos."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'