Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Twee inwoners van Mosselbaai wat op dieselfde dag deur pitbull-honde aangeval is, het beide strafregtelike sake by die polisie aanhangig gemaak. Die drama het onlangs ontvou toe die 81-jarige John Edwards helderoordag uit sy voertuig in sy oprit klim, en 'n reunhond op hom afstorm. John was nog besig om uit die voertuig te klim toe die hond hom aan sy denimbroekspyp beetkry en uit die voertuig sleep.
"Die hond het my aan my broek getrek waarna nog 'n hond op my afgestorm het."
John se vrou was in die omgewing en het die honde met klippe gegooi waarna hulle weggehardloop het. Hy het egter seergekry en moes 'n dokter gaan sien. "Ek sukkel nou om soggens uit die bed uit te klim," sê John. "Ek is nie meer vandag se kind nie en my lyf het seergekry."
Nog 'n aanval
'n Paar minute nadat John aangeval is het 'n niksvermoedende Stephen Gerber (45) 'n klipgooi van John se huis af op die hoek van 5de en 6de Laan gestap toe dieselfde twee honde, op hom afstorm. Stephen het oudergewoonte dorp toe gestap vir sy inkopies. "Die honde het bo, vanuit 6de Laan gehardloop, direk op my afgestorm en my sonder enige rede aangeval. Altwee het my aan my arms beetgekry. Dit was nag. Daar het 'n ou uit 'n tuin gehardloop en hulle met 'n sambok geslaan. Ek het probeer keer maar hulle het net aanhou byt. Ek het geval en op die grond gelê. Hulle het my gelos en drie vroue het op die toneel gestop en my gehelp."
Stephen sê hy kan nie snags slaap nie en sien heeltyd die honde voor hom. "Ek gaan hierdie week vir traumaberading." Stephen is in die Mosselbaai provinsiale hospitaal behandel en het meer as 28 steke oor sy lyf gekry. Sy wonde is ook ontsmet. Stephen het eers nie geweet dat John minute tevore deur dieselfde honde aangeval is nie.
"Toe ek 'n saak maak het die polisie gesê daar was reeds voor my ook 'n man wat 'n saak gemaak het."
Hond uitgesit
Mynie Mynhardt, bestuurder van Mosselbaai Dierebeskermingsvereniging (DBV) sê beide honde is kort na die voorval van die eienaar se perseel verwyder. "Een van my DBV-hanteerders wat met die honde in die hokke werk is deur beide honde in die DBV-hok platgetrek."
Mynhardt sê die reun is uitgesit. "Die eienaar het beweer die teef is deur die reun aangemoedig en het gevra of hy haar terug na die teler in Virginia, Vrystaat kan neem."
Stephan moes meer as 28 steke kry.
Die 40-jarige eienaar van die honde het aan die Mossel Bay Advertiser gesê beide honde se ouers is geregistreerde pitbull-honde. "Die teef, Mienkie was twee en 'n half jaar oud en Boeta, die reun agt maande." Altwee honde is by telers in die Vrystaat gekoop.
"Ek was nie by die huis toe die voorval plaasgevind het nie. My erf is omhein en die tuinhekkie was oop. My vermoede is dat iemand die hekkie oopgemaak het."
Die eienaar sê sy kinders, wat beide op hoërskool is, was baie lief vir Mienkie en Boeta. "Hulle was huishonde en het by die kinders geslaap. Hulle het nog nooit voorheen aggressiewe gedrag getoon nie. Boeta is 'n week gelede gesteriliseer en ons was nie van plan om met die honde te teel nie. Ons huis is nou stil en dit is baie swaar vir ons almal. Ons is hartseer oor die verlies van ons troeteldiere en ook oor wat met die mense gebeur het."
Hy sê hy sou graag met die slagoffers wou praat maar is deur die polisie aangeraai om nie met iemand oor die voorval te gesels nie. Hy verskyn op 22 Julie in die Mosselbaai-landdroshof op twee sake wat by die Mosselbaai-polisiekantoor aanhangig gemaak is.
* In 'n onverwante voorval is 'n 25-jarige vrou in Highway Park deur 'n hond aangeval. Die slagoffer sê sy was besig om na die taxistaanplek te stap toe 'n hond haar aan die onderbeen gebyt het. Die slagoffer het 'n saak by die KwaNonqaba-polisiestasie gemaak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'