TUINROETE NUUS - Pediatric Care Africa (PCA) se vyfde Ride for a Child-motorfietsrit, reg rondom Suid-Afrika, begin op Sondag, 11 Februarie en vanjaar mik dié organisasie daarna om 'n wêreldrekord op te stel.
PCA is 'n nie-winsgewende organisasie wat mediese hulp, van doktersbesoeke tot operasies, aan behoeftige kinders voorsien. Die stigter van die organisasie, dr André Hattingh, sal altesame 7 000km aflê.
Hy vertrek uit Witrivier (Mpumalanga), en langs die pad sluit verskeie motorfietsryer of klubs by hom aan. Vanjaar gaan dinge egter ander gedoen word.
Op 24 Februarie versoek PCA alle motorfietsklubs, motorfietsorganisasies en motorfietsryers in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en die res van Suid-Afrika om by dr Hattingh aan te sluit vir 'n beplande massiewe wêreldrekordpoging-motorfietsrit, wat plaasvind van voor die Caltex Mentors Plaza by Jeffreysbaai op die N2 na Stormsrivier.
Dit sal 50km verder by die Mentors Country Estate op Jeffreysbaai eindig. Die aanslag op dié rekord sal onder die vaandel van Ride for a Child plaasvind.
"Om hierdie rekord erken te kry, het ons 'n minimum van 4 500 motorfietse nodig om as een groep in formasie te ry, vir 50km na Jeffreysbaai en ons sal ons rekordpoging formeel by RecordSetters in die VSA indien," sê Hattingh.
Die poging sal op verskeie TV-kanale uitgesaai word, insluitend in Australië.
Ryplan
Die volledige ryplan is by www.pediatriccareafrica.org beskikbaar, maar wat motorfietsryers in dié omgewing moet weet is die volgende: Daar is 'n tweeledige benadering met motorfiets-groepe wat die ontmoetings-punt vanaf beide die Weste en die Ooste op die N2 nader.
Westelike motorfiets-groepe sal Jeffreysbaai vanaf Kaapstad/George op die N2 nader waar die eerste groep rekordpoging-motorfietsryers om 07:30 op die N2-hoofweg naby die N2 Sasol vulstasie in George sal vertrek.
Hierdie westelike optog sal aansluit by ryers wat van Oudtshoorn en verder, Knysna, Plettenbergbaai en ander dele van Suid-Afrika kom en die idee is dat dié groep die motorfietsryers wat uit die ooste kom, op die N2 ongeveer 50km voor die Caltex Mentors Plaza op die N2 in die rigting van George ontmoet, waar die werklike amptelike wêreldrekordpoging sal begin.
Genoeg parkering vir 5 000 fietse, toilette, kosstalletjies en 'n naweek-lange musiekfees sal beskikbaar wees en wag vir deelnemers op Jeffreysbaai by die eindpunt by Mentors Country Estate. Daar sal Sondagoggend 'n kerkdiens gehou word vir diegene wat dit wil bywoon.
Regdeur Jefferysbaai sal afslagakkommodasie tariewe by lodges, gastehuise en hotelle beskikbaar wees aan deelnemers, wat op Jeffreysbaai wil oornag, insluitend by Mentors Country Estate.
"Ons vra dat alle presidente en nasionale presidente van MCC/MC in die Wes- en Oos-Kaap en die wyer Suid-Afrika asook individuele motorfietsryers regoor SA Saterdag, 24 Februarie, in u dagboeke sal bespreek en om aan te sluit by ons poging om minderbevoorregte siek kinders te help en in die proses 'n wêreldrekord op te stel," sê Hattingh.
Kontak vir Mandy (072 034 0544) of die PCA kantoor by info@pediatriccareafrica.org of 076 229 5663, oor hoe om aan hierdie mega-geleentheid deel te neem.
Besoek ook die webwerf by www.pediatriccareafrica vir volle besonderhede en die Quicket skakel vir aanlynbetalings. Kostes beloop R100 per motorfietsryer en R50 per passasier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’