Dit het ten doel om toe te sien dat enige diensleweringsprobleem gekoördineerd en voor die aanvang van die volgende vergadering afgehandel word.
Die DMK dien as die oë en ore van die munisipaliteit en vergader elke Vrydag om diensleweringsprobleme, klagtes of defekte/tekortkomings wat waargeneem of aangemeld is, te bespreek, die nodige optrede te beplan en/of opdragte te gee. Dit oorweeg ook sekere ad hoc aansoeke, soos wanneer iemand iewers binne die beboude gebiede met 'n helikopter wil land.
Joubert Coetzee tree op as voorsitter en die komitee bestaan uit hoofde van direktorate of afdelings, of hul afgevaardigdes, wat senior amptenare en besluitnemers moet wees. Die Kantoor van die Munisipale Bestuurder word deur die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, verteenwoordig.
Die normale werkswyse is dat komiteelede hul waarnemings van enige probleem; van 'n gevandaliseerde straatteken, verbleikte padmerke, slaggate, lang gras, tot rommel en dies meer by die vergadering rapporteer en dit dan op die agenda plaas vir aandag en monitering. Klagtes deur lede van die publiek en/of Raadslede word ook op die agenda geplaas.
Die notule van die vergadering word aan die munisipale bestuurder, wat soms die vergaderings bywoon, vir kennisname voorgelê.
Gedurende die vakansieseisoen vergader die komitee elke weeksdag. Dit staan dan bekend as die seisoenmoniteringskomitee, en ander eksterne rolspelers, byvoorbeeld die ATKV, die SA Polisie en kontrakteurs (soos lewensredders) word ook betrek.
Die komitee funksioneer bykomend tot die Collaborator-stelsel (elektroniese dokumentbestuurstelsel), waar enige werknemer 'n diensprobleem of -klagte kan registreer, sodat dit aan die verantwoordelike direktoraat vir afhandeling binne 'n sekere tydperk toegewys word. As 'n beampte 'n probleem opmerk, word dit op die stelsel geregistreer as 'n interne diensversoek. So word verseker probleme word nie slegs elke Vrydag nie, maar onmiddellik aangespreek.
Klagtes of versoeke wat deur die week te-lefonies of per e-pos ontvang word, word ook onmiddellik op die interne Collaborator-stelsel geregistreer. Die voorsitter van die DMK monitor ook hierdie program en wanneer nodig word uitstaande items op die DMK-agenda geplaas vir bespreking.
Hierdie Dienstemoniteringskomitee stel die munisipaliteit dus in staat om pro-aktief op probleme te reageer. Volgens die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, is hierdie komitee uniek tot Mosselbaai.

Mosselbaai Munisipaliteit se Dienstemoniteringskomitee is enig in sy soort en verseker dat alle diensleweringsprobleme gekoördineerd aangespreek word. Foto: Nickey le Roux
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS