Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Na die goeie reën die afgelope naweek in die streek en die stygende riviervlakke en damme, was die Mosselbaai-munisipaliteit genoodsaak gewees om die monding van die Klein-Brakrivier op Sondag 19 Januarie meganies oop te maak.
Dié besluit het gevolg na noukeurige monitering van reënval en die vloei vanuit die opvanggebied. Oorweging is ook gegee aan verdere reën wat voorspel word.
'n Kontrakteur was reeds voormiddag op die terrein en te midde van 'n baie sterk suidoostewind en reën, is die mond oopgemaak. Die besluit om die mond oop te maak is genoodsaak om moontlike oorstromings en gevolglike skade aan eiendom langs die rivier, te vermy.
Volgens die Suid-Afrikaanse weerburo, word klein hoeveelhede reën egter nog deur die loop van die week verwag. Môre en Woensdag word meer neerslae verwag. Amptelike reënvalsyfers vir die streek is nog nie bekend.
Die amptelike aankondiging deur Departement Waterwese oor stand van die Wolwedansdam is dat dit op 17 Januarie, 42,7% vol was. Drie dae later, het dit na 60,45% gestyg. Dit gee 'n goeie aanduiding van die hoeveelheid reën wat die afgelope naweek in die dam se opvangsgebied geval het.
Kyk 'n video hieronder:
Die gewilde visvangplek in 10de laan waar die water Sondag 19 Januarie oor sy walle gestoot en die munisipaliteit genoodsaak het om die mond oop te maak. Foto: Jannie du Plessis
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'