MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-gemeente van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika nooi inwoners uit om op Vrydag, 3 Maart 'n produksie van die bekende Frank Opperman in die Mosselbaaise stadsaal by te woon.
Ek wens, ek wens is 'n fabelagtige verhaal oor Seb, 'n lykbesorger wat 'n grys, eenvoudige en ongelukkige bestaan lei.
Sy lewe is een van roetine en kleinighede en hy sien lankal nie meer die wonder en grootsheid van die lewe raak nie. Tot hy eendag 'n engelagtige seuntjie, Gawie, ontmoet. Die magiese gevolge van hierdie ontmoeting noop Seb om te vra: "As ek net een wens het, waarvoor sal ek wens?
'n Ander werk, 'n klomp geld, beter verhoudings met die mense om my? Wat is vir my belangrik? Wat wil ek die graagste in my lewe hê?"
Die sprokiesagtige Ek wens, ek wens is veral geskik vir nou. Met hierdie teks en produksie wil Frank die publiek juis dít laat doen: vir 'n oomblik weer fokus op dit wat die lewe wonderbaarlik, eerlik, eg en mooi maak. Om ons kinderlike welwillendheid en onskuld weer te vind.
Die produksie begin om 19:00 en die koste beloop R150 per persoon.
Kaartjies is beskikbaar by Mosskem Apteek in Hartenbos asook by Bay Print in die Langeberg Mall of by Emi (083 268 2277). Daar sal ook kaartjies by die deur beskikbaar wees.
'Ons bring jou die nuuste Mosselbaai, Tuinroete nuus'