MOSSELBAAI NUUS - Twee van die jongmense wat deel uitgemaak het van die burgemeester se jeugontwikkelingsprogram, Sharefa Michaels and Richasadeen Kaspy, beide van Brandwag, gaan eersdaags as studente 'n nuwe uitdaging aangryp.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, raadslede van die uitvoerende burgemeesterskomitee, die munisipale bestuurder, advokaat Thys Giliomee en ander munisipale beamptes het vandeesweek afskeid geneem van Sharefa en Richasadeen en hul sterkte toegewens met hul loopbaankeuses.
Aanvanklik het die jeugontwikkelingsprogram afgeskop met 11 jongmense wat die geleentheid gebied is om werksondervinding by die onderskeie afdelings van die munisipaliteit op te doen.
Om hulle behoorlik te ondersteun, is munisipale beamptes spesiaal opgelei om hulle te mentor.
Benewens opleidingsgeleenthede by die munisipaliteit, het die groep ook in Stellenbosch by Kromme Rhee kursusse in projekbestuur en bestuursvaardighede deurloop.
As deel van hul praktiese toepassing van die studiewerk het die groep 'n voorlegging met planne vir 'n plaaslike vaardigheidsontwikkelingsentrum opgestel.
"Die feit dat jongmense via die program die kanse aangryp om by formele studie betrokke te raak, bewys juis die sukses van die inisiatief.
"Hierdie jongmense het 'n visie vir hul toekoms en gryp geleenthede aan om 'n sukses van hul lewens te maak," het raadsheer Levendal gesê.
Twee van die jongmense wat deel uitgemaak het van die burgemeester se jeugontwikkelingsprogram, Sharefa Michaels and Richasadeen Kaspy (voor), beide van Brandwag, het vandeesweek die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, raadslede van die uitvoerende burgemeesterskomitee en beamptes gegroet voordat hulle vanjaar met hul studies begin. Foto: Nickey le Roux
Hy het die jongmense aangemoedig om altyd as ambassadeurs van die munisipaliteit op te tree.
"Mosselbaai-munisipaliteit spog met die beste beamptes in die land. Hierdie beamptes is julle bondgenote, klop by hulle aan enige tyd vir raad en bystand."
Die burgemeester het ook die munisipale bestuurder geloof vir die groot rol wat hy speel in die sukses van die projek.
Advokaat Giliomee het die jongmense aangemoedig om deurentyd gefokus te bly op die sukses wat hulle najaag.
"Toekomstige programme sal selfs beter wees as die projek waarmee afgeskop is," aldus advokaat Giliomee.
Die betrokke jongmense het net lof vir die program en die geleenthede wat dit hulle gebied het, gehad.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'