MOSSELBAAI NUUS - Bartholomeu Dias het in 1488 per ongeluk Mosselbaai ontdek en in 1988 het die Portugese met ‘n replika van Dias se karveel weer die dorp “ontdek” toe hulle al die pad van Portugal tot in Mosselbaai geseil het.
Dinsdagaand 16 Oktober om 20:30 kan Mosselbaaiers sien hoe vyf plaaslike inwoners en een van Sedgefield, Mosselbaai herontdek en op hul manier aan die publiek bekendstel.
Die pret gebeur alles tydens die televisieprogram Kom Ons Braai Familie en Vriende wat op Via op kanaal 147 uitgesaai word.
Die ses vriende Archie en Frankie Louw, Dalene Andrews, Chris Visagie, Ian Perryman en Denise Lloyd spook dit uit om te kyk watter span met die pryse wegstap.
Kom kuier saam in drie verskillende huise op die dorp en ervaar elke span se braaitegnieke en aanbiedings. Die Ontdekkerspan, Ian en Denise, het die Portugese roete gevolg en die spyskaart daarvolgens saamgestel en ook hul dekor en speletjie rondom die geskiedenis van Mosselbaai beplan.
Dalene en Chris het met ‘n see-tema gespeel en die uitnodiging was ‘n reddingsboei wat gelees het dat almal moet kom nes hulle aangetrek was voordat die boot gesink het.
Die Louw-niggies, Archie en Frankie het besluit ‘n braai is ‘n braai en jy doen dit op die boeremanier. Hul uitnodiging was op ‘n blikbeker gegraveer en hulle het beslis hul voorsate se manier van kosmaak gestand gedoen.
So kom kuier, lag en ontspan saam met die groepie Mosselbaaiers wat kans gesien het om hul huise en harte vir die televisie oop te maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'