MOSSELBAAI NUUS - Met Mosselbaai wat origens beskou word as die top semigrasiebestemming aan die Tuinroete, is dit logies dat nie net voornemende beleggers nie, maar beslis ook bestaande inwoners graag sou wou weet hoe die vooruitsigte vir volhoubare dienslewering en die teenwoordigheid van uitnemende infrastruktuur in die toekoms sou lyk.
Van die grootste oorwegings is uit die aard van die saak watervoorsiening en hoe hierdie kosbare hulpbron bestuur word te midde toenemende dorps- en streeksontwikkeling.
Mosselbaai se munisipale gebied word deur die Wolwedans- (24Ml kapasiteit), Klipheuwel- (4.5Ml kapasiteit), Ernest Robertson (0.5Ml kapasiteit), Hartebeestkuildam, asook verskeie boorgate van water bedien. Rou, onbehandelde water word na sewe watersuiweringsaanlegte binne die munisipale area gepomp, waarna dit na 30 pompstasies en 55 reservoirs gaan en uiteindelik 37 594 verbruikers (soos op 30 Junie 2023) van water voorsien.
Die totale kapasiteit van die munisipale reservoirs, op volle kapasiteit is 109.45 Ml. Die huidige kapasisteit teen 83.3% vol, is 92.55Ml. Tans is Mosselbaai gelisensieer 29 491Ml water per jaar te verkoop.
Dit gee 'n gemiddelde daaglikse beskikbaarheidsvolume van 80.70Ml, waarvan die huidige verbruik per dag, 28.26Ml is.
Sedert die 2021/22-boekjaar tot en met die 2023/24-boekjaar, is die volgende nuwe reservoirs tot die watervoorsieningsnetwerk toegevoeg:
- Herbertsdale (0.76 ML); Hartenbos – Vaale Valley (7.0 Ml); Groot-Brakrivier (4.0 Ml); en Bartelsfontein (7.0 Ml).
Wat die jongste damvlakke betref in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar, lyk sake vandeesweek soos volg:
- Wolwedansdam - 100.19% (88.23% in 2022); Klipheuweldam - 73.71% (16.06% in 2022); Ernst
- Robertsondam - 100.95% (101,23% in 2022); en die Hartebeestkuildam, waarvan slegs in tye van nood gebruik gemaak word, 92.58% (6.28% in 2022).
Vaale Vallei fase 1 voltooi en fase 2 onderweg.
Dit moet ook in ag geneem word dat die Mosselbaai-munisipaliteit se watersekerheid verder gerugsteun word deur die ontsoutingsaanleg wat 15Ml water per dag kan lewer, sou dit benodig word.
Die munisipaliteit se huidige meesterplan vir watervoorsiening is belyn met die 2030 ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (ROR).
Die plan bied 'n duidelike oorsig van die medium- en langtermynplan vir die uitbreiding en opknapping van grootmaatwaterinfrastruktuur om die beoogde vraaggroei in Mosselbaai en omliggende gebiede te ondersteun. Die ROR, asook die meesterplan vir watervoorsiening word elke vyf jaar hersien en aangepas.
Die munisipaliteit se direktoraat infrastruktuurdienste het reeds die proses begin om 'n konsultant aan te stel wat die huidige plan sal hersien en sal aanpas om vir die volgende ontwikkelingsfase voorsiening te maak.
Vaale Vallei in een van die ontwikkelingsfases.
Vaale Vallei in een van die ontwikkelingsfases.
Waterprojekte in beplanning
Met die oog op die toekoms, het die Mosselbaai-munisipaliteit verskeie waterprojekte afgehandel en in beplanning, wat miljoene rand se infrastruktuur-ontwikkeling en -opgradering behels.
Dit sluit in:
- Grootskaalse vervanging van waterlyne wat alle wyke insluit (2022/23 en 2023/24) = R10 000 000. (Gemiddeld van R5 000 000 per jaar word vorentoe hiervoor begroot).
- Waterpyplyn aangelê tussen Sonskynvallei en Brandwag (2022/23 en 2023/24) = R9 500 000
- Opgradering van waterlyne om die Louis Fourie-korridorontwikkeling te voorsien (2024/25) = R11 000 000
- Opgradering van Ernest Robertsondam se pyplyne (2022/23, 2023/24 en 2024/25) = R8 500 000
- Opgradering en pompstasie by die Aalwyndal-reservior (2023/24, 2024/25 en 2025/26) = R2 500 000
- Nuwe toevoerpypleiding na Wolwedans-reservoir (2024/25) = R4 500 000
- Opgradering van Hartenbos Heuwels se aanvullende pompstasie (2024/2025 en 2025/2026) = R2 300 000
- Bartelsfontein – opgradering van waterbergingskapasiteit vir die Louis Fourie-korridorontwikkeling (2025/26) = R10 300 000
- Klipheuweldampompstasie (elektriese, meganiese en siviele werk) = R55 000 000
Besoek gerus die Mosselbaai-munisipaliteit se YouTube-kanaal vir 'n insiggewende video aangaande die Mosselbaai-ontsoutingsaanleg.
Die voltooide Vaale Vallei-reservoir se konstruksie het in Maart 2021 so gelyk. Fase 1 van die projek is voltooi en Fase 2 is tans onderweg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’