MOSSELBAAI NUUS - 'n Nuwe meterlesingskedule word deur die Mosselbaai-munisipaliteit geïmplementeer en mag daartoe lei dat lesingsdatums kan verander.
Die munisipaliteit probeer die lesingsdatums nader aan heffingsdatums bring sodat verbruikers beter kontrole oor hul waterverbruik kan hê. Deur vroeër van hoër verbruik bewus te wees, kan beter beheer oor verbruik verseker word.
Impak op verbruikers
"Die skuif van lesingsdatums mag daartoe lei dat lesingsperiodes verskil van dit waaraan verbruikers gewoond was.
"Inwoners hoef nie bekommerd te wees dat dienste skielik meer gaan kos nie, aangesien die munisipaliteit se finansiële stelsel verseker dat niemand gepenaliseer kan word weens 'n langer of korter lesingsperiode nie.
"Soos wat die lesingsperiode langer of korter aangepas word, word die glyskale waarteen gehef word, ook groter of kleiner aangepas," aldus die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
Regstellings
"Ons stelsel stel egter ook die heffings reg sodra 'n ware lesing verkry word en verbruikers sal dus nie gepenaliseer word nie. 'n Kontrakteur wat onlangs per tender vir die meterlesings aangestel is, is 'n grasieperiode met leseingspersentasies gegun.
Mosselbaai-munisipaliteit probeer om so spoedig moontlik weer 'n lesingspersentasie van bo 95% te haal en te handhaaf sodat skattings tot 'n minimum beperk word.
"Ons vra graag verbruikers se samerwerking om die kontrakteur, Ikapa vrye toegang tot watermeters te verseker.
"Meterlesers behoort identifiseerbaar te wees met Ikapa-kleredrag en 'n Ikapa-identiteitskaart. Indien persone nie duidelik identifiseerbaar is nie, kan u die munisipaliteit kontak.
"Verbruikers kan ook self hul lesing inbel om te verseker dat daar nie 'n skatting op die rekening gedoen word nie," nooi mnr Puren.
Lees 'n vorige artikel | Watermeterlesers: Munisipaliteit reageer
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'