APRIL FOOL'S DAY JOKE: Thanks to everyone who kindly contributed to the Mossel Bay Advertiser's April Fool's Day joke. Yes, that is what it was: there are no plans to our knowledge to redevelop the old, historical cemetery. Thank you for sharing the joke with us. - Editor
MOSSELBAAI NUUS - Planne vir die nuwe, tienverdieping-woonkompleks - voorlopig genaamd Lazaretto Hoogte - wat vir die ou, historiese begraafplaas in Blandstraat beoog word, is tydens die pas afgelope raadsvergadering van die Mosselbaai-munisipaliteit eenparig aanvaar.
Meer as 20 jaar het verloop sedert begraafplaas amptelik gesluit is en die herontwikkeling van die betrokke erf kan volgens wet gevolglik oorweeg word.
Sedert 1 Oktober 1996 is geen verdere grafte daar toegelaat nie.
Werksgeleenthede
Die speaker, raadsheer Petru Terblanche het gesê die ontwikkeling is 'n droom wat hy graag in sy ampstermyn wil verwesenlik.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het aan die Mossel Bay Advertiser verduidelik die voorgenome kompleks sal heelwat permanente werksgeleenthede en langtermyn ekonomiese voordele vir die dorp meebring.
"Dit strook met ons beleid om die ekonomie te stimuleer, werk te skep en die nypende tekort aan behuising te verlig. Dit sal boonop toerisme bevorder.”
Die Mossel Bay Advertiser het op 24 Februarie 2017 berig oor die toenemende probleem met bosslapers wat die perseel vandaliseer. Tóé reeds het lesers gekla dat mense wat die begraafplaas wil besoek, dit nie meer veilig vind nie.
In Mei 2017 het die munisipaliteit insette van die publiek gevra vir herontwikkelingsvoorstelle vir die terrein.
Koste ongeregverdig
Navorsing het bewys dat aansienlik minder besoekers die begraafplaas deesdae besoek.
“Die koste om die terrein in stand te hou kan net nie meer geregverdig word nie,” sê ‘n baie senior amptenaar wat baie ambivalent staan tot die ontwikkeling.
Gedenkmuur
“Natuurlik sal alles in ons vermoë gedoen word om erkenning aan die gestorwenes te gee deur ‘n gedenkmuur op te rig. Daar sal met belanghebbendes oorleg gepleeg word oor ‘n geskikte alternatiewe terrein. Dit sal onwaarskynlik op dieselfde perseel gehuisves kan word,” het ‘n munisipale beplanner wat verkies om annoniem te bly, laat blyk. Een van die voorstelle is dat die muur om die senotaaf by die Punt ideaal as gedenkmuur ontwikkel mag word.
Die aantal prima wooneenhede met onverbeterlike see-uitsig, sommiges selfs 180% uitsig, wat teen ‘n baie hoë premie sal verhandel, sal aangevul word met die sowat 25% van die ontwikkeling wat vir die verhuringsmark geskik sal wees.
Die ontwikkelaars, ‘n konsortium van plaaslike Blou Bul-ondersteuners was nie op kort kennisgewing vir kommentaar beskikbaar nie.
Plantegroei
Die enigste kommentaar wat tydens die uitgebreide openbare deelnameproses ontvang is, was die vereiste dat die bolle van die pragtige brunsvigia – wat juis nou daar blom – vir nageslagte behoue moet bly.
Inwoners is besorg oor die natuurlewe en vrees vir die voortbestaan van veral die kiewiete wat daar voorkom, en oor die Maartblomme, ook bekend as kandelaarblomme (Brunsvigia bosmaniae).
Inwoners vra dat enige werk op die terrein oorgehou moet word tot na die huidige blomseisoen van die kandelaarblomme.
Eksklusiewe dorpsfees
Intussen het die ontwikkelaars laat blyk dat die klip van die klipringmuur teen ‘n nominale bedrag verkoop sal word en die fondse wat só ingesamel word, gebruik sal word om ‘n nuwe fees vir die dorp te befonds.
Die fees sal jaarliks op die oop topverdieping van die eenheid geskied en van waar die beplande vuurwerkvertonings skouspelagtig beloof te wees.
Vir meer inligting en kommentaar oor die voorstelle kan die konsultante verantwoordelik vir die omgewingsimpakstudie voor die einde van Maandag, 1 April by ohwhatafooliam.com bereik word.
Bewaarmakers vra dat nie met bouwerk op die perseel voortgegaan moet word alvorens die Brunsvigias nie klaar geblom het nie. Foto: Nickey le Roux
Die skematiese voorstelling van die nuwe Lazaretto Hoogte wat vir die ou begraafplaas beplan word. Die argitek, Lodewyk Coetzee van Coetzee / Alberts Architects sê die bedryf is baie opgewonde oor die voorgenome projek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'