Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ondanks die weer die afgelope Saterdag, 30 September, was daar 'n groot toeloop van besoekers by die eerste Suid-Kaapse kykNET 4x4-Ekspo, wat by die Hartenbos ATKV Amfiteater en karavaanpark aangebied is vanaf Vrydag, 29 September, tot Sondag, 1 Oktober.
Dié geleentheid is spesifiek gemik op buitelewe-, kampeer- en 4x4-entoesiaste, maar vir elkeen in die gesin was daar iets te sien, eet of om te doen.
FOTOGALERY: Eerste KykNet 4x4 Ekspo
Ná die winter en vroeë lente én met die skoolvakansie wat begin het, was dit die perfekte tyd vir die publiek en vakansiegangers om weer 'n groot buitelug-geleentheid by te woon.
Die kykNET 4x4-Ekspo is 'n volwaardige buitelewe-leefstyl Ekspo wat die allernuutste produkte op 'n baie unieke manier uitgestal het. Uitstallers vanoor die hele land het hul produkte uitgestal. Die kykNET Buite Ekspo konsep word al sedert 2011 met groot sukses aangebied in SA, met 'n Limpopo weergawe by Sondela Nature Reserve & Spa naby Bela Bela en ook een in die Wes Kaap by Môreson Plaas net buite Malmesbury, waar die opkoms in 2022 'n verbysterende meer as 22 000 besoekers gelok het om dit verreweg een van die grootste buitelewe Ekspo's van sy soort in die land te maak.
Volgens Marius Opperman, organiseerder van die Ekspo, was Vrydag 'n rekord dag gemeet aan die normale Vrydag-getalle. "Nieteenstaande die weer Saterdag het ons nog steeds 'n hele klomp mense deur die hekke gehad," sê Opperman.
Volgens Opperman was daar 133 uitstallers met 10 760 besoekers oor die naweek.
VIDEO - Eerste KykNet 4x4 Ekspo lok duisende besoekers na Hartenbos:
4x4-Hindernisritte met die bekende André de Villiers, was ook deel van die verrigtinge. Daar was ook volop gekeurde kosverskaffers op die terrein met 'n groot kroeg- en biertuinfasiliteite, asook 'n Wyn- en Kuiertuin. 'n Kuns- en snuffelmark met slegs goedgekeurde uitstallers. Dit het veral die dames se aandag getrek terwyl die manne die nuutste tegnologie in buitelewe waardeer het.
Op die verhoog het verskeie kunstenaars soos Neels Moir, Landman, Soné Joubert, Rooies, Blackie Swart, Desmond Wells, Johan Liebenberg, David Fourie, Rooiwyn Profeet en Dewald Dippenaar opgetree, met Riaan Grobler wat as die seremoniemeester die besoekers vermaak het.
Mosselbaai Helikopters is ook gereeld gesien oor die Ekspo vlieg waar hulle tydens die mooi dae helikoptervlugte gedoen het vir besoekers. Die Mossel Bay Advertiser het met verskeie besoekers gesels en die terugvoer oor die Ekspo was baie positief en almal sien uit na die volgende een, wat net groter en beter sal wees.
Opperman het borge, media vennote, uitstallers, diensverskaffers en natuurlik die dagbesoekers bedank vir hul bydraes tot 'n suksesvolle Ekspo en het gesê die Ekspo is beslis volgende jaar terug.
Ofskoon die Ekspo volgens die organiseerder, Marius Opperman, hoofsaaklik op die buitelewe konsentreer, was daar baie kosstalletjies, verhoog optredes en vermaak vir die jongspan.
Vermaak vir oud en jonk was daar genoeg soos Zita Smith van Durbanville, wat hier deur die lug trek by die speelpark.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’