MOSSELBAAI NUUS - Lucinda Watermeyer, voormalige joernalis van die Mossel Bay Advertiser, hou op Saterdag, 29 Julie, 'n boekbekendstelling van haar nuutste fiksieverhaal, Hard.
Watermeyer lê veral klem op die betreurenswaardige afname van renostergetalle en die brutaliteit wat die teenstropingseenhede in Suid-Afrika daagliks begroet om die spesie van uitwissing te red.
"Ek het hierdie verhaal spesiaal opgedra aan die teenstropingseenhede in Suid-Afrika wat daagliks met die brutaliteit van dié onwettige industrie te doen kry en steeds onverpoosd voortbaklei teen die uitwissing van die spesie," sê Watermeyer.
Volgens Watermeyer was dit die brutaliteit waarmee hierdie dade gepleeg word, wat haar die meeste geraak het.
"Die onlangse stroping in die Botlierskop-omgewing, het my net weer bewus gemaak van die wreedheid van hierdie stropings en die onskuldige diere wat aan die hand van die mens ly. Dit alles vir finansiële gewin. Ek voel dat dit werklik tyd geword het dat hierdie stories meer en meer in die publieke oog kom, sodat dit daadwerklik aangespreek kan word.
"Toe ons as gesin nog in Limpopo gewoon het, het ek meer as een keer besef hoe intens die netwerke van dié kriminele is. Dit was veral my persoonlike ervaring dat dit juis vooraanstaande individue in die publiek is, wat betrokke is by hierdie dade, maar nooit werklik vasgetrek word nie. Dit was vir my onmoontlik om in hierdie een boek, die werklike prentjie volmaak te skets, en daarom kan lesers gerus wees. Ek werk reeds aan die opvolg!"
"Hoeveel keer moet 'n man nog dié barbaarse mens se handewerk aanskou voordat hierdie wêreld wakker skrik! Hoeveel wreed kan daar in 'n afskuwelike mens wees, wat 'n dier, met soveel brutaliteit afmaai!"
Watermeyer sê, hierdie aanhaling uit haar boek, is seker die rouste vraag wat so gereeld deur die voortstrydende teenstropingseenhede gevra word. Die boek, hoewel 'n fiksie, het ten doel om werklik weer bewusmaking van hierdie tendens in ons samelewing teweeg te bring.
Boekbeskrywing
Die boek handel oor Joe Hard, 'n brutale man wat alles in die stryd sal werp om sy renosters te beskerm. Twee jaar het reeds verloop sedert Joe sy gesig in die beskawing gewys het na die laaste renosterstroping op die reservaat. Hy is 'n brutale, gewetenlose man. Hy pas sy renosters self op.
Nadat hy Dubé verloor het, het hy onverpoosd die stryd voortgesit op Tshukudu Bewaringsreservaat en Rehabilitasiesentrum, om dié spesie van uitwissing te red. Was dit nie vir Ian Hamilton se begrafnis nie, sou hy nooit uit die bos gekom het nie! Boonop verafsku hy verslaggewers. Reeds met haar aankoms word Anzelle Verster, dagbladverslaggewer, as die vyand gesien. Ian se begrafnis maak haar op 'n subtiele wyse betrokke in die onderwêreld van renosterstropery. Was dit Ian se plan dat sy Joe, die gewetenlose buffel moes ontmoet? Maar hoekom? Hierdie onderwêreld is nie eers haar beat nie en Ian het dit tog geweet…
Funksie
Die bekendstelling vind op Saterdag, 29 Julie, om 15:30 by Cornerstone Creek op Hoekwil plaas. Die middagprogram sluit ondermeer 'n boekvoorlesing deur Watermeyer in asook 'n gesellige saksofoonoptrede deur die nimlike Audrey Kritzinger. Gaste kan die beeldhouwerk en kuns deur bekende, plaaslike kunstenaar Ian Visser en andere geniet en die smaaklike spyskaart, waarvoor die fasiliteit bekend is, soos die houtvuur pizza's en mandjie-etes is beskikbaar vir eie rekening. Dit is ook die ideale geleentheid om jou boek deur die skrywer te laat teken. Boeke sal tydens die geleentheid te koop aangebied word. Hard is ook op verskeie aanlynplatforms as e-boek beskikbaar (Amazon Kindle, Apple BOOKS, Smashwords en Rakuten Kobo). Volg gerus die skakel: https://books2read.com/u/b6WDVx)
Almal is welkom om die geleentheid by te woon. Voorafbespreking is nie nodig nie.
Vir groepbesprekings en / of restaurant-navrae, kontak Nadine by 082 747 9341/nadine@cornerstoneart.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’