Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - William Sam vee steeds trane af as hy verwys na die stories van oud-soldate wie se stemme in sy jongste boek gehoor word.
Sam het in 2019 baanbrekerswerk verrig toe sy boek, My Loopbaan As Bruin Soldaat verskyn het. Hierin deel Sam sy wedervaringe uit sy weermagdae, asook die Bosoorlog.
Die boek, aangesien dit 'n eerste is wat betref die verwoording van 'n lid van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps (SAKK) se belewenisse, word as geskiedkundig beskou en het Sam 'n onderhoud met Heinrich Wyngaard op die geselsprogram, KLOP besorg. Sedert die onderhoud in Oktober 2019, het talle oud-soldate met Sam begin kontak maak.
"Ek het net besef hoeveel stories daar is wat nodig is om vertel te word." In die proses, meen hy, word heling gebring soos hyself ook deur die vertel van sy eie verhaal ervaar het.
In Januarie 2020 het Sam aan sy jongste boek begin skryf. Vanweë logistiek, het hy gefokus op plaaslike stories. "Ek het met oud-soldate en twee gesinne wat beide in 1984 'n soldaat aan die dood moes afstaan, gesels."
Kyk 'n video hieronder:
Gehospitaliseer
Sam het 'n uitgewer in Pretoria gekry, maar Covid-19 het dinge laat sloer. Nie net wat die produksieproses betref nie, maar ook Sam se finansies het as gevolg van die pandemie se effek op die ekonomie, 'n terugslag beleef.
In Desember 2020, kry Sam Covid-19 en is hy gehospitaliseer. "In hierdie tyd was daar so baie dinge in my kop. Ek het bly dink aan die dinge wat ek nog moet afhandel, soos die boek."
Danksy 'n vriend en geselsmaat in Somalië, wat hy op sosiale media ontmoet het, het Sam se tweede boek, Onvertelde verhale van S.A.K.K. Soldate die lig gesien.
"Die boek het Maandag, 15 Februarie in Mosselbaai aangekom," het Sam vandeesweek met trots aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Bo en behalwe die verhale wat in die boek opgeneem is, het Sam 'n hoofstuk aan post-traumatiese stresversteuring (PTSD) gewy.
Omdat hy self daaraan ly sedert 2016 en steeds daarvoor behandeling kry, wou hy die sluier lig op dié dikwels misverstaande kondisie.
Sam sê dat dit hom steeds affekteer as hy mense se stories hoor. "Soms wonder ek of dit 'n goeie ding is dat ek daaroor skryf, want ek beleef my eie dinge weer van voor af," sê hy emosioneel. Aangesien daar nog soveel materiaal blyk te wees, is Sam nog lank nie klaar boeke geskryf nie.
Sam stel sy boek op 7 Maart om 15:00 by Nuwe Dinge, hoek van Kloof- en Montagustraat bekend. Vanweë die Covid-19-regulasies, mag slegs 40 mense die bekendstelling bywoon.
Besprekings is noodsaaklik en kan gedoen word by William Sam (082 387 6340) of Donalda Bantom (073 335 1260).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'