MOSSELBAAI NUUS - Basil Ernest Pamplin, Ou “B” of “uncle B” soos hy bekend was onder sy familie en baie in die Mosselbaai se gemeenskap, het vreedsaam heengegaan in die oggendure op Donderdag, 23 Augustus 2018, na ‘n kort siekbed, in die hospitaal.
Basil was gebore op 23 Mei 1933 gedurende die Groot Depressiejare as die tweede oudste kind van die egpaar, Richard John Thomas Pamplin en Florence Magdalene Pamplin.
Werkloosheid en armoede wat die gevolg was van die werelddepressie in die jare 1930s, het Suid-Afrika ook geraak en Basil se pa Richard, oorspronklik van Mosselbaai, wat ‘n skrynwerker was, was genoodsaak om elders werk te gaan soek.
Hy ontmoet Basil se ma, Florence Magdalene Pamplin (gebore Dawson) oorspronklik van Carnavon, en die egpaar vestig hulle daar vir ‘n tyd lank. In daardie jare toe Basil gebore was, was daar geen luukse soos hospitale nie en was hy gebore in die familiehuis in Carnavon.
Basil het sy skoolloopbaan begin in Carnavon maar ook skole bygewoon in Vosburg en De Aar soos die familie getrek het van plek tot plek soos daar werk was, daardie jare. Basil wat in ‘n huis grootgeword het met ouers wat toegewyde katolieke was, en hul gemeenskap in die Groot Karoo, met toewyding gedien het, ontvang sy Eerste Heilige Kommunie as ‘n jongseun vanuit die Katolieke kerk in De Aar.
In 1943 toe Basil 10 jaar oud was, verhuis die Pamplinfamilie vanaf Carnavon na Mosselbaai. Basil se oupa, Johannes Marthinus Pamplin, wat woonagtig was by 20 Lower Cross Straat en verskeie erwe besit het, het die familie sonder enige ongerief, daar gehuisves. Basil het sy skoolloopbaan verder voortgesit eers by ‘n primêreskool in die dorp en daarna by die St Blaize Katoliekeskool. Gedurende daardie tyd het sy pa gewerk as ‘n skrynwerker en sy dienste gelewer aan verskeie ondernemings in die Mosselbaai omgewing, wat ook die Mosselbaai se munisipaliteit insluit.
Basil in sy jonger jare.
Die Pamplinfamilie het vanaf Lower Cross straat op verskeie plekke gewoon wat Brandwacht en daarna ook op die plase Bartelsfontein en Leeukloof totdat die familie hul finaal gevestig het in Dial Brandstraat, New Sunnyside. Basil se pa het verskeie werke gelewer vir die kerk waaronder houtkiste vir begrafnisse en die kerkbanke wat hy gemaak het, wat in gebruik was in die ou St Blaize Katoliekekerk in New Sunnyside. Hy het ook kerkbanke en houtkiste vir buiteposte gemaak wat deur die kerk verkoop was.
Basil se pa het gesien dat daar ‘n behoefte was in die Mosselbaaigemeenskap vir ‘n boukonstruksiebesigheid en begin sy eie onderneming genaamd R Pamplin & Seuns. Basil en sy broers het as jongmanne gedurende die jare 1950s, die ambag van skrynwerker en messelaar van hul pa geleer en saam met hom in die besigheid gewerk. Verskeie van Mosselbaai se geboue is die handewerk van R Pamplin & Seuns. Basil se veelvaardigheid, het tot sy voordeel gestrek, want die gevolg was, dat hy later in staat was om bouplanne te lees, landopmetings te doen en loodgieterdienste te kon lewer.
Basil tree op 28 jarige ouderdom op die 30 September 1961 in die huwelik met Adelaide Pamela Pamplin (gebore Heunis) in die St Blaize Katoliekekerk in Mosselbaai. Drie dogters, Brunhilda, Ashley en Celestè is gebore uit die huwelik.
Basil se pa, Richard, sterf in 1963 en laat vir Basil, sy broer, Victor en sy ma, elk 1/3 van die besigheid, R Pamplin & Seuns na. Die besigheid word toe bekend as Pamplin Broers. In latere jare nadat al die broers Mosselbaai verlaat het, registreer Basil die besigheid as Pamplin Construction. Basil het gedurende die jare 1970’s deur korrespondensieonderrig ‘n kwalifikasie verkry in boukonstruksie. Hy was ook vir jare lid van die Meesterbouersvereniging van Suid-Afrika en het as bouer verskeie bouprojekte in die Mosselbaaiomgewing suksevol behartig en voltooi. Tydens die bou van die nuwe St Blaize Rooms Katoliekekerk was Basil die “klerk van werke”.
Basil tree op 28 jarige ouderdom op 30 September 1961 in die huwelik met Adelaide Pamela Pamplin (gebore Heunis).
Basil was ‘n trotse bouer en het nie geglo aan brouwerk of konkelwerk nie. Hy het van die beste kwaliteit bouwerk verrig. Basil was welbekend in Mosselbaai - by sy vriende as “Ou B” en sy werkers as “Meester B”.
Basil was ook ‘n kranige hengelaar in die jare 1970s en het verskeie hengeltrofees verower. Hy en sy vrou het ook ‘n liefde gehad vir reis en het verskeie kerktoergroepe vergesel soos die toer na Sun City, Durban en selfs ‘n bootreis op die Achille Lauro. Hy het ook selfs ‘n toer na die destydse Rhodesia (Zimbabwe) saam met sy Swaer Frank en Geoffrey Pamplin onderneem.
Basil en sy vrou was toegewyde katolieke en het gemeenskapswerk vir die kerk met toewyding verrig. As ‘n jongman was Basil ook ‘n lid van die St Blaize Brigade en vir jare as altaarbedienaar gedien. Gedurende die jare 1980 was hy ‘n leke-bedienaar en ook vir baie jare betrokke by die St Vincent De Paul groep in die kerk.
Basil tree af as bouer in die laat 1980’s en het af en toe werk vir persone op versoek gedoen. Meer toesighoudend as fisiese werk. In sy afgetrede jare het Basil, wat baie passievol was oor geskiedenis en sy familie, hom besig gehou met die Pamplinfamiliegeskiedenis. Hy was ook lief om die begraafplaas te besoek om blomme op die grafte van sy geliefde familielede te plaas en dan ‘n gebed te doen. Hy het ook as ‘n ywerige lid gedien op die “Mossel Bay Heritage Society” onderleiding van Pieter van Reenen afgetrede Argitek. Een van die interessante gebeurtenisse van die Heritage Society waarvan Basil deel was, was die baie suksesvolle en interessante besoek aan Tarka, wat gereel was deur Pieter van Reenen, op Saterdagoggend, 26 Oktober 2013. Besoekers was bevoorreg om binne die sandsteenhuise wat oor die 70 jaar gelede gebou was, te kon gaan. Basil het goeie wenke ten opsigte van die akkuraatheid (precision) van klipmesselaarwerk verskaf.
Basil en sy suster, Rosemary Constance, “Mary” het ‘n besonderse verhouding gehad en alhoewel die twee telkemale met mekaar verskil het, was hulle baie geheg aan mekaar en was die twee se huise net geskei deur ‘n hekkie. Die twee het op ‘n daaglikse basis mekaar opgesoek om te kyk hoe dit gaan. Wanneer Mary nie die dag deur die hek na Basil toe gegaan het nie, sou Mary later net die klop aan die agterdeur hoor en geweet het dis Basil.
Een van Basil se drome was om ‘n grafsteen vir sy oupa, Johannes Marthinus Pamplin (*14 Februarie 1881 -- † 11 November 1950) te laat oprig. Die droom het ‘n realiteit geword op 8 Oktober 2016, na hardewerk en sweet van navorsing en om die reelings vir die inseeningsgeleentheid te tref.
Basil het daarop geroem dat hy die Pamplin was, wat die hoogste ouderdom, 85, bereik het en dit ten spyte daarvan dat hy as kind polio gehad en verskeie dokters voorspel het, dat hy nie sy mondigwording sou sien nie.
‘n Belangrike aspek vir Basil, was sy geloof. Hy het goeie waardes gehad en een daarvan was “vergewinsgesindheid, liefde vir jou naaste, om nie kos te mors nie en om in alles wat jy vra en bid tot God, vra dit as dit God se wil is.” Hy was nougeset op netheid en voorkoms en het nêrens gegaan sonder ‘n sakdoek nie. Kerkdienste moes in volle Kerkpak bygewoon word.
Elke dag het hy sy dag begin met die voorlees van die lesse soos dit voorgeskryf is in die “Catholic Link” en was sy bed besaai met verskillende weergawes van die Bybel en vele ander Katolieke gebede boeke ter voorbereiding van sy stille tyd.
Hy het geglo dat jy nie eet voordat jy die Heilige Kommunie gaan ontvang nie. Dus het hy, nadat hy vir hom ‘n Altaar met kerse en spierwit doek op die koffietafel voorberei het kompleet met al die liturgiese benodigede vir die bediening van die woord van God op Sondae geduldig gewag vir die Kommuniebedienaars / Parogie Priesters om hom te bedien. Jy sou hom nooit oorreed om voor die tyd te eet nie. Goeie liturgiese en geestelike waardes het hy op sy beste uitgebeeld. Vrydae het hy net vis geeet volgens sy geloofsoortuiging.
Basil laat na sy twee dogters, Ashley, Celeste en sy kleinkinders, asook ‘n broer, John Patrick Pamplin en twee susters, Rosemary Constance and Anita Frans.
Basil was in die rype ouderdom van in die 80s, uiters intellegent en kon feite en gebeurtenisse van jare gelede tot in die fynste besonderheid onthou en vertel. Basil het geglo en dit telkemale vir ieder en elk gese dat “die geheim van goed onthou, is om te luister.” Jy het 2 ore en 1 mond was sy gesegde. Wanneer hy jou stuur om vir hom kruideniersware te gaan koop kan jy veseker wees elke pamphlet was noukeurig bestudeer en net die beste winskopies is daaruit gehaal. Bewaar jou as jy opgedaag het met die verkeerde items wat nie gelys was nie.
Hy het ook ‘n baie goeie sin vir humor gehad en kon lekker grappies vertel. Basil was baie lief vir sy familie en het dit geniet wanneer die familie almal saam kon kuier. Menige familiekuiers het plaas gevind by Basil se suster, Mary, se huis, waar daar vir ure gekuier was in die kombuis, die sitkamer of op die stoep. Dit is die mooi herinneringe van die goeietye saam met Basil, wat die familie vir altyd sal onthou en in hul harte bewaar.
Basil laat na sy twee dogters, Ashley, Celeste en sy kleinkinders, asook ‘n broer, John Patrick Pamplin en twee susters, Rosemary Constance and Anita Frans.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'