Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Besorgde inwoner van Groot-Brakrivier, Evert de Lange, het 'n saak by die George Hooggeregshof aanhangig gemaak teen die Mosselbaai- en Tuinroete-munisipaliteite, sowel as teen die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, aangaande lisensies wat aan die Rooikat-projek toegeken is.
Die Rooikat-Recyclingprojek het aanvanklik beoog om slegs munisipale vullis te verwerk, waarvoor vullisverwerking en lug-emmissie lisensies toegeken is.
Rooikat doen nou ook aansoek vir 'n vervaardigingslisensie om diesel te distilleer, wat dit 'n petro-chemiese aanleg maak. Daar word beplan om die aanleg aan die rand van die Groot-Brakriver dorp op te rig.
Volgens De Lange was die publieke deelname proses gebrekkig en nie verteenwoordigend van die inwoners van Groot-Brakriver nie. Die projek sou eers net plastiek en motorbande, wat voorkom in munisipale vullis, smelt en verwerk, maar het gegroei tot 'n petro-chemiese bedryf wat nou toestemming vra om in die proses diesel te distilleer.
VIDEO - Evert de Lange maak 'n saak oor die Rooikat Recycle Projek (Video: Alet Engelbrecht).
Dr Johan Nel, 'n kenner van hierdie prosesse en ander kenners, is geraadpleeg deur die Groot-Brakrivier-belastingsbetalersvereniging, en waarsku dat die distilleringsproses gesondheidsgevare kan inhou - nie net vir Groot-Brakrivier nie, maar ook vir omliggende gemeenskappe.
Die gevare sluit in lugbesoedeling, onaangename reuke en siektetoestande, soos beenkanker.
Volgens De Lange is hierdie kwessies nie bevredigend in die publieke deelname proses beantwoord nie en het dit gelei tot die toekenning van die lisensies.
Langtermyn gevolge
"Die grondwet bepaal dat alle burgers van die land die reg het om in 'n veilige en gesonde omgewing te leef. Verder het burgers die reg om deel te neem en om enige besluit wat hierdie regte aantas, te beïnvloed. Ons kan nie bekostig dat daar 30 jaar van nou, wanneer ons kinders siek word en moontlik sterf aan kankers, gevra word hoekom ons as besorgde inwoners nie nou seker gemaak het dat die Rooikat-projek geen gevare inhou nie."
De Lange sê die Groot-Brakrivier-belastingbetalersvereniging, wat ondersteuning geniet van ander organisasies, probeer al sedert 2020 antwoorde op hierdie vrae kry, maar het tot op hede geen bevredigende terugvoer gekry nie. Die maatskappy en owerhede verseg glo om toe te laat dat die kundiges en kenners wat hulle geraadpleeg het in die openbaar ondervraag word.
De Lange is bereid om op eie koste hof toe te gaan om seker te maak alle vrae word beantwoord om moontlike gevare in die toekoms te vermy. "Ons wil hiermee verhoed dat belangrike besluite met langtermyn gevolge vir die ganse gemeenskap, nie deur munisipaliteite geneem kan word, sónder om die breë publiek te betrek nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'