MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se munisipaliteit sal eersdaags by verskeie areas personeel beskikbaar stel om mense wat nie self tot by die kantore kan kom nie, met aansoeke om deernishulp en rekeningnavrae te help.
Om aansoek te doen vir deernishulp moet die aansoeker 'n munisipale rekening en bewys van almal wat ouer as 18 jaar oud is en op dieselfde erf as die aansoeker woon, se bewys van inkomste, soos onder meer pensioen-inkomste of SASSA-besonderhede kan toon.
Hierbenewens moet die aansoeker sy of haar identiteitsdokument en 'n lys van die ID-nommers van almal wat op die betrokke erf woon, van die oudste tot die jongste, verskaf. Indien die aansoeker werkloos is, moet 'n werkloosheidsverklaring ingedien word. Diegene wat af en toe werkies het, moet ook aandui waar gewerk word en wat met die los werkies verdien word.
Benewens hierdie besoeke deur die munisipale personeel, kan aansoeke elke weeksdag tydens kantoorure by enige Debtpack-kantoor ook gedoen word.
Gratis elektrisiteitseenhede per selfoon
Huishoudings wat kwalifiseer vir gratis elektrisiteitseenhede kan daardie eenhede voortaan ook per selfoon ontvang. Die aansoeker moet 'n munisipale rekening en selfoonnommer in kantoorure na enige munisipale kantoor neem om te registreer.
Personeel sal telkens tussen 15:00 tot 17:00 aansoekers te woord staan.
Op 14 Augustus is dit aansoekers van D'Almeida se beurt, waarna die ander areas aan die beurt kom; Herbertsdale (15 Augustus), Sonskynvallei (16 Augustus), Joe Slovo (21 Augustus) en Brandwag (22 Augustus).
Vir verdere besonderhede, kontak die munisipaliteit (044 606 5000).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'