MOSSELBAAI NUUS - Die konsepbegroting vir die finansiële jaar 2018/2019 is onlangs deur die Mosselbaai munisipale raad ter tafel gelê en in 'n breedvoerige openbare deelnameproses aan inwoners vir hul insette voorgehou. Tegelykertyd is die hersiende geïntergreerde ontwikkelingsplan (GOP) in detail met inwoners bespreek.
Mosselbaai-munisipaliteit moet jaarliks die begroting aanpas en tariefverhogings instel vir basiese munisipale dienste om effektiewe dienslewering en volhoubaarheid te verseker. Die munisipaliteit is juis onlangs deur Ratings Afrika, 'n onafhanklike graderingsagentskap as die mees volhoubare munisipaliteit in die land aangewys.
Voorgestelde tariefverhogings
- 'n Elektrisiteitsverhoging van 6.84% en die 20 kWh gratis eenhede vir alle huishoudelike kliënte val weg, uitgesluit die geregistreerde arm- en deernishuishoudings. Die wysigings is vanaf 1 Julie van krag.
- 'n Verhoging van 7.9% op eiendomsbelasting vir beide residensiële en kommersiële eiendom
- 'n Watertariefverhoging van 6.5%;
- 'n Riooltariefverhoging van 6%;
- 'n Tariefverhoging van 15% vir vullisverwydering. Dit word genoodsaak om by te dra tot die koste van die voorgenome streekstortingsterrein. 'n Addisionele R10 per maand word gehef vir die munisipaliteit se verwydering van tuinvullis.
- 20-eenhede elektrisiteit val weg
Om die volhoubaarheid van die munisipaliteit as elektrisiteitsvoorsiener te verseker, is daar met die konsepbegroting voorgestel dat die 20-eenhede gratis elektrisiteit wegval. Dit beteken dat diegene wat die 20 eenhede met die eerste aankope maandeliks ontvang het, nie meer die ekstra eenhede gratis sal kry nie.
Mosselbaai is tans die enigste munisipaliteit in die Wes-Kaap wat nog die gratis eenhede verskaf. Let daarop dat waar die 20 eenhede vanaf 1 Julie wegval, verbruikers wat geraak word slegs met 'n 4,35% tariefverhoging belas sal word, in plaas van die voorgestelde 6,84%.
Deernishuishoudings
Die munisipaliteit het egter die lot van die armes met die 2018/19-begroting oorweeg en daar word voorgestel dat deernishuishoudings steeds 50 kWh gratis eenhede elektrisiteit per maand sal kry. Soos in die huidige boekjaar sal hulle ook nie vir riool- en vullisverwyderingsdienste betaal nie en steeds die 6 kiloliter water gratis ontvang en geen basiese heffings op water sal betaal nie.
Pensioenarisse moet registreer
Die 2018/2019-begroting, soos in vorige jare, verskaf ook finansiële verligting aan die pensioenarisse in die vorm van spesiale kortings op eiendomsbelasting en rioolkostes.
Om vir hierdie kortings te kwalifiseer, word die totale maandelikse inkomsteperk van 'n man en vrou waarteen pensioenarisse in aanmerking kom vir 'n afslag van 50% op hul eiendomsbelasting en riooltariewe, op R14 575 per maand bepaal. Die limiet om vir 'n afslag van 30% te kwalifiseer is R19 400 per maand.
Sluitingsdatum
Die sluitingsdatum vir aansoeke om vir hierdie afslag te kwalifiseer, is 31 Mei elke vyfjaar, samelopend met die algemene waardasierol. Dit is dus nie meer jaarliks soos voorheen nie. Pensioenarisse sal wel vanjaar voor einde Mei moet aansoek doen om vir hierdie afslag te kwalifiseer.
Dit sal die laaste keer wees wat pensioenarisse hoef aansoek te doen vir die huidige waardasierolsiklus, aangesien die rol eers in 2021 weer hersien sal word, tensy omstandighede verander.
Uitfasering van huurderrekeninge
Die munisipaliteit is een van die min munisipaliteite wat steeds rekeninge aan beide die eienaar en huurder stuur. Die duplisering van rekeninge verg te veel tyd en lei tot onnodige hoë administratiewe kostes vir die munisipaliteit, wat dus deur die belastingbetaler opgedok moet word.
Die munisipaliteit beoog om 'n deeglike openbare deelnameproses te volg. Die huidige konsep stel voor dat die huurderrekeninge oor die volgende vyf jaar uitgefaseer word. Dus sal geen nuwe huurderrekeninge vanaf 1 Julie 2019 oopgemaak word nie en alle munisipale rekeninge sal voortaan slegs aan die eienaar van `n eiendom gestuur word, en nie aan die huurder soos tans nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'