Tydens gesprekvoering met verskeie belangegroepe wat spesifiek onder hierdie segment van die gemeenskap werksaam is, het dit duidelik geblyk dat daar ‘n nood is om sekere kwessies voortspruitend uit wandade teenoor ouerwordende persone, aangespreek moet word.
Hierdie organisasies het ‘n memorandum opgestel van behoeftes en met die oorhandiging hiervan aan Raadslid Venolia Fortuin (Sosiale Behoeftes) tydens ‘n openbare seremonie op Saterdag 9 Julie, is 'n mandaat gegee aan die Mosselbaai Munisipaliteit om die Mosselbaai Bejaardemishandelingsforum te stig.
Verteenwoordigers van verskeie belangegroepe en ander Mosselbaaiers het hulle steun aan die stigting van sodanige forum te kenne gegee tydens ‘n optog wat die ACVV Kenani-dienssentrum se Boere-kermis op Saterdag 9 Julie, voorafgegaan het. Plakkate is gemaak en almal wat deelgeneem het aan die optog, oud en jonk, het pers gedra as teken daarvan dat hulle hierdie saak op die hart dra.
Die talentvolle Mosselbaai Gemeenskapsorkes onder leiding van José Domingo, het die optog gelei tot waar die ondertekening en oorhandiging van die memorandum plaasgevind het.
Volgens Alma Kritzinger, beampte vir geslags-, gestremdheids-, bejaarde- en MIV/Vigs-aangeleenthede van die Mosselbaai Munisipaliteit, sal hierdie forum as aanmeldingspunt dien vir sake rakende die mishandeling van ouerwordende persone en meganismes in plek stel vir hierdie kwessies om effektief hanteer te word.
Aldus me Kritzinger, sal hierdie forum poog om ‘n langtermynoplossing te bied vir probleem wat tans nie altyd suksesvol ondervang kan word nie.
Kathy Coetsee (Bestuurder, ACVV Kenani), Alma Kritzinger (beampte vir geslags-, gestremdheids-, bejaarde- en MIV/Vigs-aangeleenthede, Mosselbaai Munisipaliteit), Raadslid Venolia Fortuin (Sosiale Behoeftes), Johanne Cupido (Ithembalethu Old Age Club), Este du Plessis (maatskaplike werker, ACVV), Irene Pietersen (Age in Action), Raymond Dunjwa (Mzamonhle Disabled Club) en Erna Meyer (HEAL) het almal die memorandum onderteken.