MOSSELBAAI NUUS - Die 2022 Mosselbaai Classic Rolbaltoernooi wat verlede week van Donderdag tot Saterdag gehou is, was in alle opsigte ‘n reuse sukses.
'n Totaal van 18 spanne het deelgeneem aan die 3-dae toernooi en het mekaar goed opgekeil in die krag-teen-krag 4-spel kompetisie.
Die span bestaande uit Dirkie Human, Fred Botha, Carel van der Merwe en Mark Beviss-Challinor het met die louere weggestap terwyl Marius Roberts, Marlene Coertze asook Carike en Werner de Beer as die plaatwenners aangewys is.
Die deelnemers is elke aand, ná die dag se harde spel van drie wedstryde, van 15 koppe elk, onthaal met ‘n heerlike ete en tipiese Mosselbaai gasvryheid.
Die deelnemers was dit eens dat die reëlingskomitee hulle verwagtinge oortref het en dat hulle beslis weer volgende jaar gaan deelneem.
Die borge het ‘n sertifikaat en geskenk ontvang as blyk van waardering vir hulle ondersteuning.
Plaatwenners: Marius Roberts, Marlene Coertze, Carike en Werner de Beer en Hanna Coetzer (president van die Mosselbaai-rolbalklub).
Hanna Coetzer, president van die Mosselbaai-rolbalklub (regs), saam met die borge, Danie Acker (Rauch Gertenbach Prokureurs), Bjorn Groenewald (Midas Parts Centre) en Cheslin Lambert (Mesco Engineering Supplies).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'