MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope naweek het 'n ongeluk in Georgeweg byna noodlottig geëindig toe die bestuurder van 'n Nissan Hardbody-bakkie bykans 40m teen 'n wal afgestort het.
Die bestuurder van die voertuig het omstreeks 20:00 Sondagaand, 23 Februarie beheer oor sy bakkie verloor, en was dit nie vir 'n heiningpaal wat deur die bakkie gesteek het nie, sou dit teen die wal afgestort het.
Die ongeluk het net ná die kliniek in Georgeweg op 'n draai plaasgevind.
'n Ooggetuie vertel dat die bakkiebestuurder hom voor die voorval by die Nautica-kompleks byna van die pad af gery het. Die ooggetuie, wat verkies om anoniem te bly, het glo bemerk dat die bestuurder roekeloos bestuur. Die ooggetuie het daarna met sy selfoon 'n video begin neem terwyl hy agter die voertuig aangery het tot waar die bestuurder van die bakkie beheer daaroor verloor het.
Die bakkie is deur die eerste heining by die wal af, het gerol en op sy dak tot stilstand gekom. "Gelukkig het 'n heiningpaal deur die bakkie gesteek en sodoende verhoed dat die bakkie verder oor die afgrond stort," vertel die ooggetuie aan die Mossel Bay Advertiser.
"Ek het dadelik uitgespring om te help en het die nooddienste gekontak wat baie vinnig daar opgedaag het."
Volgens inligting, is daar van meganiese toerusting gebruik om die bakkie se bestuurder uit die voertuig te bevry. Hy is deur By Grace-ambulansdiens na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem vir behandeling. Die man het homself glo uit die hospitaal ontslaan en is daarna deur die polisie in hegtenis geneem.
'n Saak van roekelose en nalatige bestuur word deur die Mosselbaai-polisiestasie ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'