MOSSELBAAI NUUS - Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) bied een van die grootste Afrikaanse kompetisies aan met lekker pryse op die spel.
Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is 'n opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders ook gehelp met hulle skryfproses deurdat hulle terugvoer kry van die beoordelaars. Inskrywings is gratis.
Vanjaar se tema is erfenis
Erfenis is al omskryf as "dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur".
Wat sien jy as erfenis?
Albertus de Klerk van Walvisbaai beskou die bloedrooi boontjiekerwer in sy ma se kombuis as sy erfenis. Die gesin is baie lief vir boontjiebredie en daarom het hy besluit om dié kerwer met sy kamera te verewig. Leerders kan ook 'n gedig, opstel of dagboekinskrywing oor iets wat hul baie na aan die hart lê, skryf of dit skilder.
Daar is sewe kategorieë waarin jy jou kreatiwiteit kan uitleef. Dit sluit in dagboekinskrywings, 'n resensies, 'n opstel, 'n kortverhaal, poësie, fotografie en skilderkuns. Jy mag in een of meer kategorieë deelneem.
Wie kan deelneem?
Alle graad 6- tot 12-leerders en studente in Suid-Afrika en Namibië asook enige land ter wêreld waar Afrikaans as moedertaal of nie-moedertaal gebruik of bestudeer word. Die FAK moedig veral ook studente van Afrikaansdepartemente aan universiteite regoor die wêreld aan om deel te neem. Op hierdie wyse sprei Afrikaans sy internasionale vlerke.
Alle inskrywings moet teen 31 Julie ingehandig wees. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Inskrywing is gratis.
Wat kan jy wen?
Die wenskool ontvang R10 000 en die algehele wenner wat die uitblinker was en die tema die beste beskryf het, of dit nou deur 'n foto, opstel of gedig was, ontvang die wisseltrofee en R5 000 kontant word gegee vir sy of haar skool.
Besoek die FAK webwerf by ekspo.fak.org.za en registreer 'n profiel vir inskrywings.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'