Video
GROOT BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Nagenoeg 400 mense het in Desember Groot-Brakrivier se ligte- en lanternfees op die rivieroewer bygewoon.
Organiseerder, Laurinda Smit sê talle mense het egter die vlotte vanaf 'n afstand beskou. "Meer as 380 mense het die R30 toegangsfooi betaal, maar daar was heelwat meer mense wat buite gestaan het en ook in verwondering na die skouspel gekyk het."
Smit sê vanjaar sal die vyfde jaar wees dat inwoners en vakansiegangers op die oewer van die rivier bymekaar kom, kerse en lanterns aansteek, en mekaar se geselskap geniet.
"Dit voel of mense die intensie van die geleentheid begin begryp. My intensie met die fees is om vir mense die geleentheid te skep om piekniekmandjies en stoele te bring, boodskappe op die kaartjies van die kerse te skryf, en dan familietyd saam te spandeer."
Smit sê minstens 1 290 kerse is gebrand waarvan 840 op die water gedryf het.
Kyk 'n video hieronder:
"Dit verbly my hart dat mense verstaan dat die fees nie vermaak bied nie, maar dat dit 'n geleentheid bied vir mense om weer met mekaar te praat. Die wind het verlede jaar vreeslik gewaai en ek was onseker of ons die vlotte op die water sou kry. Teen 18:00 het die wind skielik stil geraak en massas mense het opgedaag. Die kerse het nie net mense se gemoedsvlakke verhelder nie, maar bring ook jaarliks vir ons visuele lig."
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier,Tuinroete nuus'