MOSSELBAAI NUUS - Nadat 'n plaaslike inwoner 'n oproep van sy suster ontvang dat 'n 57-jarige kliënt in die restaurant waar sy kuier, inmekaar gesak het, het hy nie geskroom om hom dadelik na die toneel te haas nie.
Kyle Hammond (17), wat net 'n ent van die restaurant in Voorbaai bly, was vinnig op die toneel.
Hammond is nie net 'n lewensredder by die Hartenbos Lewensreddersklub nie, maar ook 'n vrywilliger by die By Grace ambulansdiens op Mosselbaai. Die voorval het net na 22:51 Saterdag, 1 Julie, in die Bakgat restaurant plaasgevind.
By die toneel aangekom, het hy dadelik die pasiënt geasseseer. Hy kon geen reaksie kry en geen polsslag vind nie. Hy het dadelik die eienaar van die By Grace-ambulansdiens, Juan Barnard, gebel en gesê hy het 'n pasiënt wat nie reageer, met geen pols en gesê hy gaan begin met kardiopulmonêre resussitasie (KPR).
Sowat ses minute later het Barnard en nog twee van sy paramediese personeel, Jessica Geel en Jan Carstens, op dié toneel opgedaag. Barnard het die toneel oorgeneem en hy en sy span het met KPR en die nodige sorg en toerusting, na 'n ruk 'n pols begin kry. Hulle het die pasiënt gestabiliseer en hom na die provinsiale hospitaal op Mosselbaai geneem. Die pasiënt is later dieselfde aand na die Provinsiale Hospitaal in George oorgeplaas.
Volgens Barnard, wat Dinsdag, 4 Julie, met die Mossel Bay Advertiser gepraat het, was die pasiënt steeds in die intensiewe-eenheid op 'n ventilator maar dat sy toestand stabiel is.
Was dit nie vir die vinnige optrede van Hammond en die daaropvolgende spanwerk van die By Grace-span nie, kon die situasie egter anders verloop het.
Jan Carstens en Jessica Geel is paramedici van die By Grace span.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'