Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Oor die afgelope tien jaar deurkruis die 62-jarige Patrick Styles van Carltonville die land met 'n houtkruis oor die skouer met die doel om God se liefde en woord te versprei waar hy homself ookal bevind.
Op Maandag, 15 Januarie, het hy met Mossel Bay Advertiser gesels pas ná hy die styl opdraende op gestap het van die Louis Fourieweg kruising met Georgeweg tot verby die Marshstraat afrit.
Hy was op pad na Danabaai waar hy vir die aand 'n slaapplek aangebied is deur Marissa Myburgh. Myburg het op 'n sosiale groep gelees van die man wat slaapplek soek op Mosselbaai en met 'n oop woonstel het sy vir Styles 'n slaapplek aangebied.
Sy kruistogte het sowat 10 jaar gelede begin ná 'n openbaring en 'n persoonlike deurbraak in sy geestelike lewe met God.
So het hy toe begin stap vir God. Sy eerste staptog was van Rustenburg tot in Potchefstroom. Sedertdien het hy al duisende kilometers afgelê met sy staptogte en kan getuig van interessante wedervaringe. Op Hopefield het hy in 2019 vir Niels Nilsson ontmoet, wat hom oor Styles ontferm het. Nilsson reël gereeld met sy landswye kontakte en veral in die Weskaap vir Styles slaapplek op die dorpe wat hy aandoen.
Tuis spandeer hy so paar maande met sy vrou en dan vat hy weer die pad. Hy het drie seuns en sewe kleinkinders. Styles het voor sy aftrede 17 jaar op die Steyn Goudmyn op Welkom gewerk maar is na 'n motorongeluk met 'n rugbesering medies ongeskik verklaar.
Die houtkruis van ongeveer 70 kg is 3m lank en 2m breed. Die agterpunt van die kruis rus op 'n as en twee fietswiele waarop 'n toesluit staalkas gemonteer is. Daarin bêre Styles sy klere en ander benodigdhede. Daar is ook twee spaar fietswiele indien die ander onklaar raak. Dan rus die kruis op sy skouers met sagte spons waarmee hy dan die kruis dra en trek.
VIDEO - Patrick Styles gesels met Mossel Bay Advertiser oor sy staptog:
Tydens dié staptog vanaf Carltonville, waar hy tans woon, het hy op Richmond teëspoed gehad. By die oornagfasiliteit is sy selfoon en beursie gesteel met sy bankkaarte en ID kaart.
Op Mosselbaai het hy die afgelope Maandag probeer om nuwe kaarte te kry, maar sonder 'n ID was dit nie moontlik. Met vorige staptogte in De Doorns omgewing is hy ook al beroof. Buiten dié terugslag het een van die kat-ogies op pad na Mosselbaai hom gepootjie.
Met 'n paar skrape en skaafmerke sit dit hom nie af nie en maak dit hom net meer vasberade om die staptog voort te sit.
"As iemand my vra waar slaap ek vanaand dan antwoord ek met die dat ek weet nie, maar solank die Here net weet."
Van Mosselbaai stap hy na Albertinia en dan verder na Kaapstad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’