Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Nadat 'n paar miljoen rand se mandrax-tablette twee weke gelede by 'n busstop op Mosselbaai deur 'n snuffelhond gevind is, is die Border Collie met die bobaasneus, Sticks, 'n plaaslike held.
Sticks is opgelei om 'n verskeidenheid dwelms uit te snuffel, asook perlemoen.
Sy hanteerder is Danie Koch, 'n ondersoeker wat vir Eldo Coaches werk en wat jare reeds ook met die plaaslike polisie saamwerk wanneer hulle sy hulp benodig.
Sticks het op 3 Desember meer as R5 miljoen se mandrax-tablette in bokse by die Shell Truckport opgespoor. 'n Een-en-vyftigjarige man is in verband met die voorval deur die Da Gamaskop-polisie in hegtenis geneem. Die saak word intussen ondersoek deur die SAPD se provinsiale afdeling vir handelsmisdaad.
FOTOGALERY: Sticks en Koch 'n wenspan
Jarelange passie
Koch se liefde vir honde kom uit sy kinderdae. Sy ma het destyds op hulle plaas in Rouxville, Vrystaat as een van die grootste hondetelers in die provinsie, 76 teelhonde aangehou. As jong man sluit hy aan by die destydse provinsiale administrasie raad waar hy sy eerste honde-eenheid stig.
Met 'n spierwit Border Collie genaamd Ben, begin Koch met sporthondespring. Ben was ook opgelei as snuffelhond. As werknemer later by Anglo- American, verower Koch en Ben verskeie titels met sporthondespring.
Op Mosselbaai, stig Koch ook 'n honde-eenheid by die Intercape-busdiens met sy snuffelhond Alfonso. Na verpligte pensioen, moes hy Alfonso agterlaat en sluit hy aan by Eldo Coaches aan waar hy steeds werksaam is.
VIDEO: Meer oor Danie Koch
Koch het Sticks vir die belaglike prys van R500 op die aanlynverkoopsplatform OLX gekoop. Eers het hulle net basiese huisopleiding gedoen. Vandag, nadat Sticks formele, geakkrediteerde opleiding ontvang en baie saam met Koch geoefen het, kan hy 11 verskillende dwelms, asook perlemoen uitsnuffel.
VIDEO: Sticks
Opleiding
"Opleiding begin met 'n speletjie soos bal gooi en met 'n bevel om dit te gaan haal. Die hond gaan haal dus die bal waaraan jou reuk kleef. Later word hy dan met toe oë geleer om die bal met jou reuk aan te gaan soek," verduidelik Koch.
Hierdie proses word dan verder verfyn deur verskillende dwelmmiddels te gebruik en verskillende bevele te herhaal.
Sticks se enigste beloning is baie liefde, om geprys te word en 'n speelding wat hy kan gaan haal.
"Geen eetbare belonings word gegee nie," sê Koch.
'n Hond se gesondheid is baie belangrik en in die video-onderhoud wat die Mossel Bay Advertiser met Koch gedoen het, verduidelik hy verskeie simptome van hondesiektes en die behandeling daarvan.
"Die belangrikste is dat sodra jou dier nie normaal optree nie, moet jy weet dat daar fout is."
Voor Sticks 'n toneel deursoek, het Koch hom geleer om op bevel eers sy draaie te loop sodat 'n verleentheid nie geskep word sou hy moet ontlas of urineer terwyl hy moet werk nie. Sticks sal dan die bagasieruim en passasiergedeelte van die bus op verskeie bevele deursoek. Indien hy iets verdags vind, sal hy gaan lê, blaf en soos Koch sê, "praat" Sticks dan met hom.
Koch en Sticks reis landwyd en doen snuffelwerk vir die busdiens. Hierdie wenspan spog met talle suksesse waartydens groot dwelmvondse opgespoor is.
Die hegte verhouding tussen die twee is opmerklik. Daar is die ooglopende liefde tussen 'n hond en sy eienaar, maar ook die vertroue wat net twee hegte kamerade in 'n stryd teen misdaad, met mekaar sal hê.
VIDEO: Hoe word 'n snuffelhond opgelei
VIDEO: Op 'n toneel
VIDEO: Sticks in aksie
Sticks wag op 'n opdrag van sy hanteerder. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'